29 Mei 00:08
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Rainfall 0

Humidity 56%

Dinsdag

21°C / 14°C

Wind 8km/h

Rainfall 0

Humidity 48%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Donderdag

18°C / 14°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 73%

Vrydag

19°C / 13°C

Wind 14km/h

Rainfall 0

Humidity 66%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 29km/h

Rainfall 0

Humidity 77%

Neem mooi ster-ringfoto’s


Raak jy moeg om ’n klomp gapende leeus en sonsondergange af te neem? Villiers Steyn wys jou hoe om goeie ringfoto’s van die sterre te neem.


Die laat aande wat jy aan sterringfoto’s gaan spandeer, is beslis die moeite werd wanneer jy die mooi resultate sien.

Volg dié agt stappe om ’n sterringfoto te neem, maar maak eers seker jy het die volgende toerusting: ’n SLR- digitale kamera, ’n wyehoeklens (verkieslik 35 mm of wyer), ’n driepoot en ’n koordlose sluiterknop (wireless shutter release).


Stap 1

Maak seker jy neem die foto op ’n wolkvrye aand sonder maanlig, iewers sonder ligbesoedeling. Hoe helderder die sterre, hoe beter.


Stap 2

Sit jou kamera op ’n driepoot en mik suid, aangesien die sterringe op hul mooiste lyk in hierdie rigting. Gebruik die Suiderkruis, ’n GPS of jou slimfoon om suid te bepaal.


Stap 3

Mik vir die helderste ster(re) met jou fokuspunt, druk die sluiter halfpad in totdat jy seker is hulle is in fokus, en skakel dan oor na Manual Focus op die kant van jou lens. Solank jy nie jou driepoot stamp of met die lens se fokusring peuter nie, hoef jy jou nie verder oor die fokus te bekommer nie.


Stap 4

In die donker plaas ’n mens maklik die horison skeef. Skakel oor na Aperture Priority (Av), kies jou kleinste f-waarde en hoogste ISO-waarde en neem ’n paar oefenskote. Op hierdie ligsensitiewe foto’s behoort jy die sterre, horison en voorgrond te kan sien. Plaas hulle nou in treffende posisies.


Stap 5

Aktiveer nou die Bulb-funksie (dit laat jou toe om die sluiter so lank as wat jy wil, oop te hou), bring jou ISO-waarde af na 100 of 200 en kies ’n f-waarde van tussen f4 en f8.
As jou ISO-waarde te hoog is, sal daar baie digitale geraas op die foto verskyn, en as jou f-waarde te groot is, sal jy nie die sterringe duidelik kan sien nie.


Stap 6

Noudat die sterre in fokus is, die horison gelyk is en die regte verstellings geaktiveer is, kan jy die koordlose sluiterknop aan die kamera koppel. Dit voorkom dat jy heelnag met jou vinger op die sluiter hoef te staan. Wanneer jy die sluiter ’n halfuur lank oophou, lyk die sterringe gewoonlik stippeltjierig.
Ek stel egter voor jy hou dit vir langer oop om die ringe egaliger te laat lyk. Twee tot drie uur is ideaal.  

WENK: Moenie meer as een sterringfoto per aand neem nie, want die kamera se sensor word warm in die proses.


Stap 7

Om die ligging bietjie te beklemtoon en sodoende meer karakter aan die foto te gee, stel ek voor dat jy die voorgrond effens verlig.
Gebruik ’n kopliggie om ’n boom of voertuig te “verf”, skakel ’n lampie vir ’n minuut of twee in jou tent aan of brand ’n kers vir ’n oomblik in jou kampplek.
Maak egter seker dat jy nie te veel lig skep nie. Die bedoeling is om sagte lig op die voorgrond te gooi.

WENK: Staan agter die kamera wanneer jy ’n kopliggie of flits gebruik om die voorgrond te verlig. Neem nog ’n paar oefenskote om die effek van jou voorgrondbeligting te toets voor jy die sluiter ure lank oophou.


Stap 8

Nadat jy ’n uiltjie geknip het, is dit tyd om die knoppie op die koordlose sluiterknop weer te druk.
Die sekonde of twee wat dit vat vir jou sterringfoto om op die LCD-skermpie te verskyn, voel soos ’n ewigheid, maar dis uiters verslawend. Die kans is goed dat jy môreaand weer gaan wil probeer!


* Verbeter jou natuurlewefotografie deur Villiers se app, Learn by Example – Wildlife Photography, in die Appstore of Google Play Store te kry. Beskikbaar vir slimfone en tablette.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters