22 September 06:20
Kaapstad Verander Area

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 32km/h

Rainfall 0

Humidity 75%

Saterdag

19°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 0

Humidity 54%

Sondag

19°C / 10°C

Wind 26km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 29km/h

Rainfall 6mm

Humidity 73%

Dinsdag

14°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 5mm

Humidity 66%

Woensdag

16°C / 11°C

Wind 33km/h

Rainfall 0mm

Humidity 64%

Ses van die bestes
6 staproetes op Tafelberg

Daar is honderde staproetes op en om Tafelberg, maar hoe kies ’n mens? Moenie jou kop breek nie, want ons het die dinkwerk vír jou gedoen en ses roetes gekies – van kort en lank tot hardebaard.


1. Kirstenbosch na Kampsbaai

François Haasbroek

DIE MAKLIKE DAGROETE 1.  (± 6 uur)

Op ’n windstil, sonnige dag in die Moederstad klop min dinge ’n stap van Kirstenbosch af tot in Kampsbaai. 

Hoekom dié roete? In min stede kan jy vroegoggend op ’n kranswand koffie drink en dan teen middagete in ’n koel restaurant by die see sit. 

Hoe moeilik? Die eerste 4 km van die sowat 12 km gaan jou asem laat jaag, veral die klim op in die Skedelravyn en Smutspad. Volg dié pad in die rigting van die Maclear-baken, maar draai links by die baken wat Waaikoppie aandui en stap deur die Echo-vallei. Hier stap jy oor bruggies tot by ’n T-aansluiting, waar jy links draai tot by Kasteelpoortravyn en afstap tot in Kampsbaai. 

Hoe kom ek daar? Begin by die Kirstenbosch- botaniese tuin en reël dat iemand julle in Kampsbaai kom haal. 

Nog dagroetes: Klim op in die Platteklipravyn (of neem die sweefspoor) en stap oor die Agterberg na Constantianek (14 km). Of oornag in die Oranjekloof-tentkamp. Jy kan die roete net saam met ’n gids stap. Kontak Tafelberg- nasionale park.

– François Haasbroek




2. Agatha se kloof

Foto: Karen Watkins

DIE ‘ONBEKENDE’ ROETE 2. (± 4 uur) 

Jy gaan nie toevallig op Agatha se Kloof afkom nie. Dis genoem na die whodunit-skrywer Agatha Christie, nadat iemand opgemerk het dis ’n raaisel hoekom enigeen hier sal wil stap. 

Hoekom dié roete? Tafelberg is ’n gewilde plek, maar die kanse dat jy jou op dié roete in die sandale-en-sokkiebrigade gaan vasloop, is nul. 

Hoe moeilik? Die roete begin by Constantianek en styg in die rigting van die Eagle’s Nest-bergkaap. Volg die paadjie regs al langs die Constantiarant vir sowat 15 minute voordat jy links afdraai in Agatha se Kloof. Wees op die uitkyk vir klipstapeltjies wat die roete aandui. Die roete klim deur Agatha se Kloof en Turret-rant. ’n Skeur en ’n skoorsteen is van die hindernisse op pad na die Belle Ombre-piek. As jy nog energie het, mik na die De Villiersdam, sowat ’n halfuur verder. Jy klouter en klim altesame sowat drie uur tot bo-op die Bel Ombre-piek. 

– Karen Watkins



3. Kirstenbosch tot Kasteelpoort

François Haasbroek

DIE GESKIEDKUNDIGE ROETE 3.  (± 5 uur) 

Stap verby verskeie geskiedkundige bakens en gedenktekens op dié roete van die Nurseryravyn tot by die bopunt van die Kasteelpoortravyn. 

Hoekom dié roete? In die Nurseryvallei is die eike en sipresse al wat oorgebly het van die Listerkwekery waar plantkundiges in 1892 gekyk het watter Europese bome hier aard. Bo stap jy verby die Waterwerkemuseum – gaan kyk na die ou lokomotief wat boumateriaal vervoer het om die damme te bou. 

Hoe moeilik? Die Nursery-ravyn gaan jou dalk miltsteek gee. Die Nurseryvallei is jou effens meer genadig, en van daar af is dit baie plat tot by die ou sweefspoorstasie (foto regs) net bo die Kasteelpoortravyn (5,5 km). Stap af tot in Kampsbaai, of tot by die sweefspoorstasie (die nuwe een). 

Hoe kom ek daar? Uit die Kirstenbosch- botaniese tuin volg jy net die bordjies vir Nursery-ravyn. 

Nog geskiedenis: Stap van die Rhodesgedenkteken af tot by die sogenaamde Koning se blokhuis naby die kontoerpad. Verder, in die rigting van die sweefspoorstasie, sien jy die bouvalle van die Koningin en Prins se blokhuis teen Duiwelspiek.

– François Haasbroek



4. Duiwelspiek

Foto: Jon Minster

DIE HARDEBAARDROETE 4. (± 6 uur)

Die meeste roetes teen Tafelberg op is doenbaar vir die gewone ou. Maar daar is ook roetes wat jou lewe met ’n paar jaar verkort... 

Hoekom dié roete? Almal weet hoe steiler die roete en hoe meer jy hyg, hoe groter die beloning. Van Duiwelspiek af kry jy ’n unieke blik op Kaapstad, Tafelberg, Leeukop, die Kaapse Vlakte én die suidelike voorstede. 

Hoe moeilik? Die roete is net sowat 3 km, maar vreksteil. Op die laaste klim tot bo-op die piek voel jy soos ’n skilpad wat teen ’n muur uitklim. En die weer help ook nie. Dinge raak glibberig ná swaar reëns. En dikwels voor jy jou kom kry, woed die suidoostewind. Hier is gewoonlik minder stappers as op Leeukop, en hier was al aanvalle; stap dus in groepe van minstens ses vir veiligheid. Stapstokke is ’n moet. 

Hoe kom ek daar? Ry verby die sweefspoorstasie en Platteklipravyn op die Tafelbergpad tot by ’n bordjie aan jou regterkant wat die begin van die roete aandui. Parkeer aan die linkerkant. 

Ander hardebaardroetes: Jy sal nie veel van jou naels oorhê nadat jy die India Vensterroete, wat min of meer onder die sweefspoor loop, uitgeklouter het tot by die boonste sweefspoorstasie nie.

– Angela Aschmann




5. Leeukop

Foto: Jenilee Venter

DIE NET-NÁ-WERK-ROETE 5. (± 2 uur) 

Vergeet van lang rye by die roeimasjien in die gim en mik eerder Leeukop toe ná ’n lang dag voor jou rekenaarskerm. 

Hoekom dié roete? Jy laat werk jou kuite, maar jy sal nog betyds by die huis wees vir The Good Wife. 

Hoe moeilik? Die roete is uitdagend (jy klim altesame sowat 400 m in ’n uur), maar die hele gesin kan saam stap. Dit begin met ’n steil grondpad, en ná 15 minute staan jy aan die ander kant van Leeukop... waar Clifton se poskaartmooi strande en die Gewelberg onder jou lê. Daarna neem die voetpaadjie jou oor kliptrappe en teen ’n leertjie op tot jy weer aan die stad se kant is. Hier moet jy besluit: Klim jy met die kettings teen die rotse op of vat jy langpad. Doen sommer al twee: Neem die langpad verby interessante rotsformasies en klim later die aand met die kettings af. Dit neem sowat twee uur om die sowat 5 km tot bo en terug te doen (’n blaaskans bo-op die berg ingesluit). Trek gemaklike skoene aan, pak drinkgoed en onthou ’n reënbaadjie en koplamp. 

Hoe kom ek daar? Ry op in Kloofnekweg en draai regs in Vlaebergweg. Dis sowat 500 m tot by die roete se beginpunt. 

Nog ná-werk-roetes: Parkeer by die tweede haarnaalddraai op die Tafelbergpad – dis die pad wat jy vat na die sweefspoorstasie. Stap deur die groen hek tot by die trappies op pad na Kloof Corner-rant en kyk hoe die son sak oor die Moederstad. Of stap op een van die kontoerpaaie tussen Vlaeberg en Leeukop vir mooi uitsigte oor Seepunt.

– Jenilee Venter



6. Betonpad tot by die damme

Foto: Esma Marwerick

DIE MAKLIKE ROETE 6. (± 5 uur) 

Bring die kinders en vir Snippie, die malteser, en stap kuier-kuier op ’n wye betonpad (die sogenaamde bridle path) tot bo-op Tafelberg. Hoekom dié roete? Dié pad is die maklikste manier om tot bo-op Tafelberg te stap. Die eerste deel is grondpad, maar die grootste deel is ’n netjiese betonpad. Trouens, jy kan selfs ’n babawaentjie tot bo stoot. Dink net hoe trots gaan die kinders wees om vir hulle maatjies te vertel hulle het tot óp Tafelberg gestap! 

Hoe moeilik? Hoewel die pad stadig berg-op kronkel, is dit steeds plekplek steil. Ná sowat 4 km is jy bo-op die plato, waar jy basies op ’n pannekoek stap. Span uit by die De Villiersdam, of as die kinders nog energie het, stap aan tot by die Woodhead- en Hely-Hutchinsondam. Hier kan julle onder die dennebome julle toebroodjies eet. Na regs is ’n voetpaadjie na die water toe, maar ongelukkig is swem verbode. Wees op die uitkyk vir ’n kraan aan jou regterkant by die opsigter se kothuis net ná De Villiersdam. Maak hier julle waterbottels vol. Die maklikste is om bloot met dieselfde pad langs terug te stap – uit en tuis sowat 14 km. 

Hoe kom ek daar? Los jou kar by die Constantianek-parkeerplek en mik regs op langs die laning bloekombome. 

Ander kindervriendelike roetes: Die redelik gelyk Pyplynroete begin digby die afdraai na die Tafelbergpad – die pad na die sweefspoorstasie toe. Jy stap al langs die voet van die Gewelberg tot by die Kasteelpoortravyn, sowat 9 km verder. Hoe ver julle stap, hang af van hoe fiks die kinders is...

– Esma Marnewick




Wees versigtig

  • Stap in ’n groep, want mense word steeds aangeval op die berg.
  • Bly op die hoofpaadjies.
  • Laat weet iemand waarheen julle stap en hoe laat julle klaar gaan wees.
  • Dra genoeg water saam.
  • Pak altyd ’n waterdigte baadjie en iets warms in – die weer kan wispelturig wees.

Nuttige nommers

  • Tafelberg- nasionale park: 021 712 2337
  • Tafelberg-noodnommer: 086 110 6417
  • Polisie 10111 (van ’n selfoon af 021 10111)
  • Kaapstad-nooddienste: 021 480 7700
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters