24 April 22:59
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

23°C / 14°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 52%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 76%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 15km/h

Rainfall 0

Humidity 76%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 68%

Saterdag

27°C / 17°C

Wind 26km/h

Rainfall 0

Humidity 38%

Sondag

20°C / 16°C

Wind 16km/h

Rainfall 0

Humidity 81%

TOER
6 van die beste sleepwavriendelike bestemmings


Baie van ons lesers hou daarvan om hulle boswaens saam te sleep as hulle die vreemde invaar. Maar nie almal is noodwendig lus om hulle boswaens oor Van Zylspas te sleep nie. En selfs al kan jy, is dit nie altyd ’n goeie idee nie. 

Hierdie lys van bestemmings is plekke waar jy werklik die natuur kan geniet, maar jou terselfdertyd nie hoef te bekommer dat jou boswa gaan vasval of omslaan nie. So haak op en vat die pad!


1. Die Richtersveld


Die sinkplaatpad wat jou na die hek van die hierdie nasionale park lei, is dikwels in ’n veel egter toestand as die paaie binne die park na die spog-kampplekke in die indrukwekkende klipberge van die Richtersveld. Boonop is die afstande tussen die kampe klein, so jy kan met min moeite van uitsig verander gedurende jou besoek. 

Die park het vyf kampeerplekke: Sendelingsdrif, Potjiespram, De Hoop, Richtersberg en Kokerboomkloof. Sendelingsdrif kan besig word in spitstye, Potjiespram is dus ’n goeie alternatief, want dis net 9km van die hoofkamp af. De Hoop met sy pragtige ligging op die Oranjerivier is die gewildste kamp, maar as dit te besig is na jou smaak, is Richtersberg, 8km verder oos op die rivieroewer, ook ’n goeie opsie. Die pad rivierlangs tussen dié twee kampe is egter plek-plek lekker sanderig. Jy sal dus jou storie moet ken.

Kokerboomkloof is die enigste kamp wat nie op die rivieroewer geleë is nie, maar dit is definitief die moeite werd om ’n nag hier deur te bring. Die rotsformasies en afgeleë ligging van dié kamp, veral op ’n maanlose aand wanneer die sterre op hul helderste is, maak dit ’n belewenis.  

Die Richtersveld is ook ’n goeie poort vir reise verder noord, want Sendelingsdrif het ’n grenspos waar jy met ’n pont oor die rivier na Namibië kan reis.



2. Namakwa-ekoroete


Die Namakwa-ekoroete begin by Pella in die Noord-Kaap, volg die Oranjerivier tot by Vioolsdrif en lei jou oor die Hel se Hoogtepas na die suidelike deel van die Richtersveld en uiteindelik tot by Alexanderbaai op die Weskus. Die N7 deel die roete in twee. Jy het dus die opsie om net die helfte daarvan te doen

Daar is geen amptelike kampeerplekke langs die roete nie, dus moet jy alles bring wat jy nodig het en al jou rommel weer uitneem. Die ongerepte plekke langs die roete soos Melkboom, Ramansdrif en die Kamgabrivierloop is egter juis wat dié roete so besonders maak. 

Die terrein wat jy hier sal teëkom, sluit klippe, sand en sinkplaatpad in, so bring ’n kompressor en banddrukmeter en maak seker alles op jou wa is stewig vas. In die loop van die Kamgabrivier sal jy plek-plek dik sand kry en jou lyn goed moet kies oor die klipbanke.

Net duskant Vioolsdrift kry jy die berugte Road to Hell, maar dié pad is nie een wat jy sonder groot risiko met ’n boswa kan aanpak nie. Rondom die roete is daar heelwat interessante plekke wat ’n besoek werd is. Maak ’n draai by die Katolieke kerk in Pella, proe dadels by Klein-Pella of doen ’n vetplantoer in Eksteenfontein. Anderkant Vioolsdrif se grenspos lê Namibië voor jou en na die ooste is Riemvasmaak en die Augrabies Nasionale Park.



3. Kgalagadi-oorgrenspark


Die Kgalagadi is een van daardie plekke waar ’n boswa baie handig te pas kom omdat jy waarskynlik deur die dag gaan wild kyk en dus nie jou hele kamp hoef op te slaan nie. Van die beste kampeerplekke in die park is afgeleë en jy moet jou eie voorraad en water saamry. Vir langer besoeke sal ’n boswa dus jou lewe aansienlik makliker maak. En as die leeus in die nag in jou kamp kom rondsnuffel, bied ’n stewige boswa ook ’n beter meer beskerming as ’n tentseil.

Na gelang van jou roete gaan jy diep sand, matige duine hier en daar en erge sinkplaatpaaie teëkom. Dit is dus ’n goeie idee om jou skokbrekers, boute op die koppelaar en sleepstang en jou wielnawe (vir hitte van die bearings) elke paar kilometer na te gaan. Moenie oorlaai nie en maak ook seker jou jockey wheel is goed vas, of haal dit af en pak dit iewers veilig. En laastens, onthou om ook die boswa se wiele na die regte banddruk af te blaas.

Let wel, die 4x4-paaie na Bitterpan en Gharagab is net vir die gebruik van gaste wat hier oorslaap en geen sleepwaens word op hierdie roetes toegelaat nie.



4. Suid-Namibië


Een van die grootste foute wat mense maak, is om die ryding te pak en die hele Namibië in ’n warrelwindtoer van 10 dae te probeer verken. Dis eintlik waansinnig, omdat dit ’n reusagtige land met baie besienswaardighede is – waarvan heelwat honderde kilometers uitmekaar is.

Die suide van Namibië is self baie groot, daarom stel ons voor jy mik vir die suidelike deel van die suide, met ander woorde, alles noord van die Oranjerivier en suid van ’n lyn tussen Keetmanshoop en Lüderitz.

Een van die beste uitspanplekke is die loop van die Gamchab-rivier, net voordat dit in die Oranje invloei. Hier kan jy groot dele van die jaar lekker kamp, omring deur indrukwekkende hoë kranse. Dis boonop ook net 67km vanaf die Vioolsdrif/Noordoewer-grenspos, so jy kan begin afhaak en tent opslaan minder as ’n uur nadat jy jou paspoort laat stempel het.

En as jy daar klaar is, kan jy vir ’n aand of drie by Ais-Ais gaan uitspan, voordat jy afsaal by Hobas-ruskamp en die Visrivier-canyon se uitkykpunt besoek. Jy kan ook ’n ent verder, by die bekende Cañon Roadhouse gaan inloer vir ’n lekker ete – of hulle kampplek gebruik.

Van hier af kan jy na Lüderitz reis of, as jy oorgenoeg tyd het, kan jy verder noordwaarts reis op uitstekende grondpaaie om plekke soos Duwisib-kasteel en Sossusvlei en Sesriem te besoek.



5. Mosambiek


Nes Namibië, is Mosambiek ’n baie groot – eintlik lang – land en moet jy meer spesifiek wees oor watter deel jy wil besoek. Die EN1-hoofpad is teer en loop van die suide tot baie ver noordwaarts.

Maar as jy ’n lekker boswa-vriendelike avontuur soek, verlaat Suid-Afrika by die Pafuri-grenspos bo in die Kruger Nasionale Park en ry boslangs tot in Vilanculos waar jy vir ’n hele paar dae kan uitspan.

Om daar uit te kom, moet jy na die Pafuri-grenspos suidoos ry tot by Mapai. Hier draai jy links (noordwes) en steek die Limpopo oor – as dit nie te sterk vloei nie! Volg dan die Tracks4Africa-roete tot by Machaila, waar jy in ’n gemeenskapskampeerplek kan oorslaap, voordat jy die volgende dag deurdruk na Vilanculos, via Offiso, Mabote en Mapinhane.

Die roete is tegnies nie moeilik nie, dit bevat net plek-plek lekker dik sand en as jy ’n groot woonwa saamsleep, kan takke hom nou en dan krap. Vir die meeste boswaens is dit egter geen probleem nie.



6. Weskus-4x4-roete


Die Weskus is nie om dowe neute so gewild onder mense nie. Dis afgeleë, pragtig en bied jou net genoeg van ’n veldry-uitdaging om dit te geniet, sonder om jou ryding te breek en ’n vakansie te bederf.

Dis geografies ook ’n groot stuk aarde, daarom konsentreer ons op die Weskus 4x4-roete, wat begin teenaan die see naby Lutzville en 88km later die Groentriviermond bereik.

Van hier af is dit nog 80km tot by Hondeklipbaai, waarvan die eerste stuk redelik sanderig is, met kort draaie op plekke. So as jy nie die bande gaan afblaas nie (1bar vir ’n leë ryding), gaan jy vassit. Jy kan natuurlik ook die roete van noord na suid ry, m.a.w. van Hondeklipbaai na Lutzville.

Daar is orals langs die roete pragtige “wilde” kampe soos “Delwerskamp”, “Kwass se Baai”, “Varswater”, “Koringkorrelbaai” en “Spoegriviergrotte” waar jy en jou vriende in totalle afsondering kan kuier en ontspan. Onthou net om hierdie plekke so netjies te los as wat jy dit gekry het.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters