29 Mei 00:03
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Rainfall 0

Humidity 56%

Dinsdag

21°C / 14°C

Wind 8km/h

Rainfall 0

Humidity 48%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Donderdag

18°C / 14°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 73%

Vrydag

19°C / 13°C

Wind 14km/h

Rainfall 0

Humidity 66%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 29km/h

Rainfall 0

Humidity 77%

8 Planne vir ’n luilekker langnaweek


1 TUINROETE

Deur Matt Covarr


Woude, berge, see, strande, mere, kronkelpaaie, kranswande, pieke, poele... G’n wonder toeriste vlieg van reg oor die wêreld om hier te kom vakansie hou nie. Dinge kan woelig raak, maar hier is steeds ’n paar plekke waar jy alleen kan wees.

Bly só besig

Trap die Sewepassepad. Jy kan die hele 75 km van die ou pad tussen George en Knysna trap, of net dele daarvan. Dis meestal grondpad wat heupswaai deur donker klowe, oor helderbruin riviere en deur digte bosse. 


Trek ’n spaan deur die Touw. Pak ’n piekniek, swembroek en verkyker, en klim in ’n kano op die Touwrivier in Wildernis. Die rivier kronkel deur heuwels met digte woude. Ná ’n halfuur begin stamp-stamp jou kano teen die klippers. Parkeer hom teen die regterkantste oewer en volg die paadjie tot by ’n 2 km lange plankiespad wat doodloop by ’n waterval. Dis hier waar jy jou mandjie kan uitpak en heeldag kuier.

Stap en wees stil. Woude, strome, koelte en dalk ’n Knysnaloerie... Stap die 6,5 km lange Terblansroete deur die Gounawoud wat begin by die Grootdraai-piekniekkol, sowat 17 km van Knysna af op die Ou Kaapse-pad.

Hou op pad terug stil by die San Ambrosio-kerkie wat gebou is in 1891 vir die Italiaanse syspinners à la Dalene Matthee se Moerbeibos. Van hulle afstammelinge het die kerkie onlangs opgeknap.

Word ’n strandloper. Vind uit wanneer dit laagwater is en stap die 10 km van Keurboomstrand af tot by die Keurboomsriviermonding by Plettenbergbaai.




2 MAGOEBASKLOOF

Deur Leon-Ben Lamprecht 


Die Magoebaskloof is groen en geil, selfs in die winter. En as jy hier ’n stapskoen plant, kom daar sweerlik ’n staproete op.

FOTO GROEN ROETE. As jou gesin meer aan die aktiewe kant is, kan julle een oggend vroeg opstaan en die Magoebaskloof-staproete in die Magoebaskloof aanpak. Die gesin kan die tweedagroete doen en jou neef met die groot kuite die vierdagroete.


Bly só besig 

Stap in en om die kloof. Die Magoebaskloofstaproete het van maklike tweedagopsies vir die hele gesin tot ’n vierdagopsie vir die fikses.

As jy water op die knieë het, doen die 10 km lange Louis Changuion-staproete rondom Haenertsburg. Dié roete loop onder meer deur die dorpsbegraafplaas, waar die inwoners soms in die maanlig piekniek hou.

Ry deur die kloof. As jy net jou arm ’n bietjie by die venster wil laat uithang, vat die R71 van Haenertsburg af na Tzaneen en ry dan met die R528 terug deur die Georgesvallei.

Op dié sirkelroete van sowat 75 km waaier die woude weerskante van die pad vir kilometers aaneen, en as die mis insweef, kan jy skaars jou kar se neus sien. Dit voel dan amper asof jy op pad is na die hotel in The Shining...As jou honger nie weggeskrik is nie, stop vir ete by die Glenshiel-hotel, sowat 2 km van Haenertsburg af op die R71.

Gly deur die kloof. Foefieslaaid van platform tot platform oor die Groot-Letabarivier in die Georgesvallei met Magoebaskloof Canopy Tours. Voel waarlik vry met jou hare wat in die wind wapper, ’n katrol wat bo jou kop “wwwrrrr”, en jy wat soos ’n laerskoolmeisie gil. 




3 TANKWA-KAROO

Esma Marnewick


Die Tankwa-Karoo is die naaste wat Suid-Afrika aan Namibië kom – byna ’n soort Namibië Lite. Selfoonontvangs is skraps, en as jou voertuig hier gaan staan, kan jy regtig gestrand wees... Maar hier is ’n nasionale park, en uitsigte wat jou laat glimlag.

FOTO RUS. Die stilte in die Tankwa-Karoo kom sit diep in jou gemoed. Ry die Gannagapas vir ’n uitsig oor die vlaktes.


Bly só besig

Elandsberg-uitsig. Ry met ’n 4x4 tot by dié uitkykpunt sowat 4 km van die Tankwa Nasionale Park se Elandsberg-wilderniskamp, of parkeer jou Tazz en stap die 4 km. Hoe ook al, kom net bo!

Doer ver onder jou raak die vlakte dynserig tot op die gesigseinder, en droë lopies vertak teen die Elandsberg se hange af en loop uiteindelik dood in die sand soos are wat die handdoek ingooi.

Slaap oor. Die Elandsberg-wilderniskamp is van die mees afgesonderde blyplekke in Suid-Afrika, en die huisies is só gebou dat jy voel asof jy stoksielalleen is.

Die huisies (elk met ’n plonspoel) is gewild, wat beteken jy moet maande vooruit bespreek.

Ry ’n paar passe uit. Ry ’n wye sirkelroete (sowat 225 km) van die parkkantoor af, oor die Gannagapas tot by Middelpos, deur Sutherland, oor die Oubergpas tot weer by die parkkantoor.

Dié roete neem jou van onder uit die vlakte tot bo-op die Roggeveldplato en jou dag is vol uitsigte, naelbytpasse en gasvrye mense.

Eet middagete by die Middelpos-hotel of die Gannaga-lodge.




4 BLYDERIVIERCANYON

Deur Toast Coetzer


Mpumalanga se toeriste-ouens noem die R532 nie verniet die Panoramaroete nie: Hier’s mooi berge, watervalle en ’n hand vol uitkykpunte oor die Blyderiviercanyon. Oor ’n langnaweek kan jy selfs Pelgrimsrus en ’n hap van die Laeveld inpas.


Bly só besig

Kyk élke uitsig. Van Graskop af ry jy al langs die Drakensberg-eskarp noordwaarts met die R532. Die Rotsnaald (Pinnacle), Driekop, Jock’s View, God’s Window en Wonder View lê op die R534-luspaadjie – jy sal die afdraai net buite Graskop sien.

Terug op die R532 kry jy dan afdraaie (dié slag na links) vir die Lisbon- en Berlynwaterval.

Kyk verder noord uit vir die Trichardt-Potgietergedenkteken aan die regterkant. Die Treur- en Blyderivier kom bymekaar by Bourke’s Luck, en noord hiervan begin jy Mariepskop en die Drie Rondawels na die ooste gewaar.

Die Laeveld-uitkykpunt is nie sleg nie, maar as jy foto’s wil neem van die Drie Rondawels, doen dit van die Drie Rondawelsuitkykpunt af. Onder jou sien jy ook die canyon, die Blyderivierpoortdam en die Sonwyser (’n mooi bergkop).

Ry Laeveld toe. Die Panoramaroete is vir uitsigte, maar as jy oor die Abel Erasmuspas afry na die Blyde se Laevelddeel, bring dit jou binne trefafstand van die Krugerwildtuin (die Orpenhek is 75 km van Swadini af). Forever Swadini is ’n goeie oorstaanplek danksy die warmwaterbron en doendinge soos ’n bootvaart op die Blyderivierpoortdam. 

Pelgrimsrus. Niemand slaan hierdie geskiedkundige dorpie oor as hulle die Blyderiviercanyon besoek nie. Loer in by die museum of hang rond in koffiewinkels. 

Slaap oor. Graskop en Pelgrimsrus het gastehuise by die dosyne, maar as jy wil kampeer, is Forever Blyde Canyon en Forever Swadini jou beste roep. En die kinders gaan vir jou dankie sê vir die groot swembaddens en grasperke.

Stap van die oord af na die World’s End-uitkykpunt teen sonsondergang vir een van die beste (enrustigste) uitsigte oor die canyon.



5 DIE WATERBERG

Deur Jenilee Venter


As jy in Pretoria of Johannesburg woon, is Klapperkop die naaste wat jy aan berge gaan kom. Maar noordwaarts met die N1, net anderkant Modimolle (die ou Nylstroom), lê régte berge – die Waterberg.

FOTO ALLE PAAIE LEI NA DIE WATERBERG. Pak jou kamera en gaan ry ’n draai om die Waterberg tydens sonsondergang af te neem.


Bly só besig

Koop affie plaas. Die R101 tussen Modimolle en Mokopane (Potgietersrus) en die R33 tussen Modimolle en Vaalwater is besaai met padstalle waar jy inkopies kan doen vir die naweek se kampspens – vrugte en groente wat letterlik plaasvars is, tradisionele gebak, biltong...

Nylsvley-natuurreservaat. Pak die piekniekmandjie propvol, want jy gaan heeldag onder ’n doringboom wil sit en die bokke en voëls dophou in dié reservaat, sowat 20 km van Mookgophong (Naboomspruit) af.

Uit die voëlskuilings, goed versteek tussen lang riete, kan jy sowat 100 spesies watervoëls soos grootrietreiers, streepborsvleikuikens en rooipensreiers dophou. 

Sê bokkaas! Neem die kroos na die bekroonde Geluksfontein-bokkaasplaas op die R33 tussen Modimolle en Vaalwater, en kyk elke middag om drieuur hoe die bokke gemelk word. Of doen ’n plaastoer en proe kaas.

Bespreek vooraf weglêkos by die Goatino Pub & Grill of koop ’n bottel wyn en ’n kaasbord en span uit op die gras terwyl die kleintjies die bokke voer.

Draai die ruite af en ry. Laai jou kamerabattery en gaan jaag die kleurespel van die sonsondergang. ’n Goeie roete hiervoor is as jy links draai op die grondpad Alma toe, sowat 20 km voor Vaalwater van Modimolle af.

Dié roete van sowat 80 km neem jou verby Alma, oor die Bakkerspas en dan Vaalwater toe (jy het nie ’n 4x4 nodig nie).

Stiltetyd. Besoek die St. John the Bapist-kerk op die plaas Vier-en-twintig-riviere net buite Vaalwater. Dié kerkie met sy mooi loodglasvensters is ontwerp deur sir Herbert Baker, die argitek van onder meer die Uniegebou.





6 BAVIAANSKLOOF

Deur Barnie Louw


Die bestanddelelys vir die Vallei van die Bobbejane is soos volg: ’n bietjie Sani- en Bloukranspas, ’n skeppie Tsitsikamma en Kruger, en ’n knippie Herman Charles Bosman-karakters. Die vraag is nie óf jy moet gaan nie, maar eerder wánneer.

FOTO VERSIGTIG NOU. Jy gaan jouself beslis nie flou stap op die Waterkloofroete op die plaas Bo-Kloof in die Baviaanskloof! Maar hou egter verby as jy engtevrees het, want op sommige plekke stap jy deur die ravyn wat baie smal is.


Bly só besig

Ry Bain se pad. Die meesterpad- en pasbouer Thomas Bain het die enigste pad deur die Kloof rondom 1890 voltooi. Dié een is dalk nie so indrukwekkend soos sy Swartberg- of Outeniquapas nie, maar dit is sy langste pad. En een van sy mooistes.

Jy kan binne sowat ses uur deur die kloof ry, maar ry eerder kuier-kuier en gaan vir twee, drie nagte. Ry die kloof van wes na oos (Willowmore na Patensie), want dan los jy die mooiste vir laaste.

’n Pad vir ’n gesinsmotor is die R322 beslis nie. Jy steek minstens 40 keer ’n rivier oor, die padtoestand is plek-plek power, en as dit gereën het, is dit nóg erger. En moenie vergeet van die passe nie… Ja, ’n pad op ’n kaart is ’n ander ding as jy dit ry.

Voel klein. Op die Waterkloofroete op die plaas Bo-Kloof stap jy op in ’n small ravyn met kranswande van tot 80 m hoog. Op party plekke is die ravyn só smal dat jy met uitgestrekte arms aan die kante kan raak.

Soek ’n waternimf. Van die ou Klowers sal jou vertel van waternimfe met lang swart hare en grysgroen oë wat by waterpoele rondhang en jou die water intrek as jy hulle die verkeerde antwoord gee.

’n Paar dinge moet jy glo nóóit doen nie: As hulle jou vra of jy vis eet, sê nee, anders is dit jou einde. En moet ook nie een vang nie, want dan sal daar ’n groot vloed wees.

Kamp wild. Kampplekke in die kloof is so volop soos oud-Vrystaters in die Sharksspan, maar die een wat sinoniem is met die Baviaanskloof, is Rooihoek. Dié kampplek op die oewer van die Kougarivier is waarskynlik een van die indrukwekkendste kampplekke in Suid-Afrika; nie vanweë die geriewe nie (daar is nie so iets
nie), maar die ligging: Die rivier hier voor jou, wit sandstrande, hemelhoë rooi kranse, en diere wat voor jou kampplek kom drink.




7 iSimangalisovleilandpark 

Deur Esma Marnewick 


Oerwoude vol voëls, strandmere vol helder vissies, lang wit strande sonder mense... dit klink soos ’n eksotiese plek waarvoor jy ’n paspoort nodig het. Die iSimangaliso-vleilandpark is beslis groot genoeg om ’n land op sy eie te wees, maar jy het nie ’n paspoort nodig nie. Dis oral lekker wild – of jy nou kamp in ’n bos of bly in die “hoofstad”, St. Lucia. 

Bly só besig


Vaar verby seekoeie. Bederf die gesin met ’n bootvaart op die St. Lucia-meer en kyk wie kan die meeste diere sien. Jy hoor nou en dan ’n verontwaardige genurk, maar verder steur die seekoeie en watervoëls hulle min aan die bote. Ander diere wat die kinders kan tel, is krokodille, sebras, waterbokke, bontvisvangers, reusesterretjies en wildemakoue.

Bekyk ’n visfuik. Jy’t al honderde foto’s gesien van die viskrale in die Kosimeer wat van riete gebou word. Kom teen sonsopkoms of -ondergang en klink ’n glasie op dié visvangtradisie van die Tsonga-gemeenskap. 

Soek ’n seeskilpad. Kom kyk tussen November en laat Februarie hoe leer- en karetskilpaaie met hulle logge lyf uit die see skuifel om hulle eiers op die strande naby Kaap Vidal te lê. 



8 DRAKENSBERG

Deur Jon Minster


Kapenaars moet ’n propperse vakansie soontoe beplan, maar Gautengers en Durbaniete kan rondom middagete ry en die aand al ’n vuur in die skadu van die berg aansteek. Trotseer ’n bergpas, swem in ’n bergpoel, ry op jou bergfiets, klim ’n berg uit...die Drakensberg is soos ’n Game-winkel vir bergdoendinge.

FOTO MENSE IN DIE MIS. Dié paadjie in die Drakenberg loop van die Sentinelparkeerterrein tot by die kettinglere waarmee stappers tot bo-op die Amfiteater klim. Dié staproete word gereken as die mooiste in die berg.


Bly só besig

Bly in ’n gesinshotel. Hier’s ’n hele paar uitstekende gesinshotelle in die Drakensberg waar jy kan rolbal en Bingo speel, trampoline spring, stap en eet tot jy jou belt moet verstel.

Hotelle soos The Cavern en Dragon Peaks word al donkiejare deur dieselfde families bestuur, en baie gaste hou al van hulle kinderjare af hier vakansie.

Stoei met die Sanipas. Moenie die stories glo van “ag man, ek is daar oor met ’n Getz nie”. Jy moet dit in ’n 4x4 doen, selfs al is dit droog. Drink heel bo ’n Maluti Lager by die Sani Top Mountain-lodge en kyk hoe baardaasvoëls in die lug sweef.

Gek oor voëls? Bespreek ’n daguitstappie op die Sanipas saam met Malcolm Gemmell, ’n voëlgids. Hy bestuur (dankie tog!) en wys jou ’n paar van die pas se geveerdes: oranjeborsberglysters, bergpietjiekanaries en geelkanaries. Onthou jou paspoort!

Soek rotskuns. Hier is talle rotskunsroetes, maar by die Game Pass-skuiling in die Kamberg-natuurreservaat heers ’n byna heilige gevoel. Die bekendste tekening is van ’n sjamaan wat die stert van ’n sterwende eland vashou. Uit en tuis is dit 7 km se stap.

Klim die Amfiteater. Indien ’n mens energieverbruik en die sjoe!-faktor in ag neem, is die staproete van die Sentinel-parkeerterrein af op met die kettinglere tot bo-op die Amfiteater beslis die beste waarde vir jou kort asem.

Selfs diegene wat nie skrik vir ’n 3 m hoë duikplank nie, sal maar ver van die kranswand af staan – dis meer as ’n kilometer se val as jou voet hier gly. Jy kan op en af in een dag – ’n energiewinskoop!


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters