22 September 06:21
Kaapstad Verander Area

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 32km/h

Rainfall 0

Humidity 75%

Saterdag

19°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 0

Humidity 54%

Sondag

19°C / 10°C

Wind 26km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 29km/h

Rainfall 6mm

Humidity 73%

Dinsdag

14°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 5mm

Humidity 66%

Woensdag

16°C / 11°C

Wind 33km/h

Rainfall 0mm

Humidity 64%

Aftrekplekke op pad Weskus toe
Foto’s: Liana Mocke


Daar is meer as net die “Biscuits en Biltong” waaroor David Kramer sing langs die Weskus. Trek af by hierdie vier padstalle langs die R27 en luister na die gekwetter van papegaaie, koop wyn en lê weg aan van die lekkerste cinnabuns nóg.  


Beulah-plaasdeli: Daar is ’n broodjie in die oond.


Draai in by Beulah-plaasdeli vir Italiaanse koffie en cinnabuns met die perfekte versiersuiker-tot-kaneel verhouding. Die ingangshek na die deli is langs die R27 op linkerhand as jy van die Kaap af kom, sowat 500 m voor die Yzerfontein-afdraai.

Die deli se rustige atmosfeer sal gou op jou afsmeer wanneer jy langs die kaggel op groot rusbanke kom sit, wag vir jou bestelling en luister na die rustige agtergrondmusiek.

Die Rosemead-bakkery is langs die deli in dieselfde gebou en die reuk mag jou dalk al deur ’n oop motorvenster lok nog vóór jy die padstal sien. Kies tussen ’n groot verskeidenheid suurdeegbrode, Franse brode, croissants en quiche. Die quiche-enkelporsies se pryse wissel; die “mansgrootte”, soos die deli dit noem, kos R38 en die kleiner “damesgrootte” R30.


Waar? S33.338250, E18.239826

Wanneer? Dinsdag tot Sondag: 8 vm.-3 nm. (Die deli is Maandae gesluit, en die bakkery op Maandae en Dinsdae).

Kontak 083 233 5355; Beulah se Facebook-blad.




Weskus-plaaspadstal: Kom luister hoe papegaaie en kokketiele gesels.



Hierdie padstal het baie om besoekers te beid: inkopies, inligting, etes, speelplek en ’n gekwetter van voëls.

In die winkel soos jy by die deur van die padstal instap, word klere, serpe, geskenke en handgemaakte poppe verkoop.

Stap ná jou inkopies deur na die restaurant aan die agterkant van die gebou. Jy kan binne of buite onder koeltebome by die voëlhokke en speelpark sit. Die restaurant het ’n à la carte-spyskaart met onder meer gekookte boerekos soos afval en beesstert. Sondagmiddae word  ’n buffet bedien. (Volwassenes betaal R150 p.p en kinders R65.)   

Onder die bome is die groot voëlhokke met verskeie spesies papegaaie, kokketiele en ander voëlspesies in. Van die voëls is spraaksaam en kan dalk geselsies met jou probeer aanknoop. (Moet net nie jou vingers deur die heinings steek nie!) Loop tussen die voëlhokke deur terwyl die kleinspan in die sandput langsaan speel en julle wag vir die kos om bedien te word.

Loer ná ete by die Cape West Coast Biosphere se inligtingskantoor langs die parkeerarea in. Hier kan jy meer inligting oor begeleide wandelroetes in die omgewing kry en besprekings maak. Die kantoor het ook baie brosjures oor Weskusdorpe, -doendinge en -verblyfopsies.  Vir meer inligting oor die wandelroetes besoek die Cape West Coast Biosphere se webwerf. (www.capebiosphere.co.za).

Waar? GPS S33.334120, E18.238809

Wanneer? Daagliks tussen 8 vm. en 5 nm.

Kontak 071 658 9167; Weskus-plaaspadstal.




Vygevallei-padstal: Koop wyne uit die omgewing.



Vygevallei-padstal is in 1993 opgerig en die ideale plek om te stop vir ’n vroegoggend-koffie. Los maar die wyn by die huis en koop eerder die naweek se voorraad by die Vygevallei Wynhuis langs die koffiewinkel. Maak jou inkopiemandjie in die winkel vol met vars brood, heuning, olywe, beskuit, konfyte en blatjang.

Waar? GPS S33.400821 E18.278830

Wanneer? Daagliks. Die koffiewinkel is tussen 8.30 vm. en 5 nm. oop en kos word net tot 4.30 nm. bedien.

Kontak 074 138 1610 en 022 492 2586; Facebook-blad.



Weskus Spens Padstal: die oudste padstal op die R27.



Hierdie is die oudste padstal op die Weskuspad en bestaan al sedert 1992. Dit is 20 kilometer voor Velddrif as jy van die Kaap af kom en jy gaan sukkel om dit mis te ry: ’n Interessante skipstruktuur staan by die afdraai van die R27.

Hou onder die groot koeltebome voor die padstal stil en laat die kinders die skip gaan verken terwyl julle deur die winkeltjie stap. Die pasteie hier is propvol heerlike vulsels, soos maalvleis, hoender en bobotie. (R40 met ’n slaai). As jou beursie dun is, bestel twee snye varsgebakte brood met botter, konfyt en kaas! (R32). Die plaasbrood wat daagliks met die hand geknie en gebak word, is blykbaar wêreldbekend en het al saam na New York en Delhi gereis.

Hier is ook heuning, aalwynprodukte, boerseep, ingelegde vrugte, emaljeware en allerhande snuisterye te koop. Koop sommer genoeg koffie- en gemmerkoekies om die koekblik vol te pak, dit proe soos jou ma se baksels. Die padstal word tans opgeknap. (Maart 2017)

Waar? GPS S32.942834 E18.078196

Wanneer? Daagliks tussen 7.30 vm. en 5.30 nm.

Kontak 022 715 4400; Weskus Spens se webwerf; Facebook-blad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
10 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters