24 April 23:01
Kaapstad Verander Area

Dinsdag

23°C / 14°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 52%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 76%

Donderdag

20°C / 15°C

Wind 15km/h

Rainfall 0

Humidity 76%

Vrydag

22°C / 14°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 68%

Saterdag

27°C / 17°C

Wind 26km/h

Rainfall 0

Humidity 38%

Sondag

20°C / 16°C

Wind 16km/h

Rainfall 0

Humidity 81%

ATKV-MEDIAVEERTJIE
Die langste en swaarste trein in die wêreld
Laat jou ysterwiele rol (en rol)


Het jy al iets gesien wat 3,8 km lank is én beweeg? Willem van der Berg vat die spoor van die langste trein in die wêreld – die Sishen-Saldanha-trein – terwyl dit stortreën in die Boesmanland.


FOTO’S WILLEM VAN DER BERG


Hierdie artikel is benoem vir 'n ATKV-Mediaveertjie in die "Beste in diepte-artikel"-kategorie.


Ons is gestrand. Iewers op ’n grondpad ’n paar kilometer noord van Loeriesfontein, diep in die Boesmanland. In die pad voor ons storm ’n rivier van sowat 30 m breed verby en maak bruin golfies bo-oor plaasdrade. 

Die kaartboek het ’n ompad aangedui ’n ent terug. Daar gekom, het ’n verwilderde boer met oë so groot soos dorperskaap deur sy bakkie se oop ruit geskreeu: “Julle moet hier wegkom, die vlei stoot toe!” En toe deur ’n stuk water geduikboot en teen ’n bult uitgejaag. 

Nou sit ons weer voor ons rivier en wag… Teen laatmiddag hou dit op  reën, die donker wolke breek effe oop en strale son kom oor die vlaktes na ons toe. Ons steek net daar ’n vuur aan en slaat die kampstoele oop. Hoe het ons hier beland? Vir ’n trein. En nie enige trein nie. Die langste en swaarste trein in die wêreld, die Sishen-Saldanha-trein...



Dis die myn se skuld


“Jy beter vanaand daai rooi kolle inseep anders gaat jy vir hulle nooit weer uitkry nie,” het James Koloi gister raadgegee terwyl ons rondloop by die Kolomela-myn, 22 km wes van Postmasburg. En hy weet, want hy is al vier jaar hoof van die treinbedryf by die myn. 

Dis Februarie. Rondom ons lyk dit asof die aarde aan die bloei geraak het. Rooi poele vorm waar die somerreëns die grond tref. Alles rondom ons is rooi. Die modder aan jou veiligheidstewels, jou hande nadat jy aan die traprelings vasgehou het, die geboue, die voertuie en blykbaar die reën ook. Op my hemp is reeds ’n paar rooi vlekke.

Die rooi stof wat al die ander kleure hier rond laat skaam kry, kom van die ystererts af waaraan dié omgewing so swaar dra. Sishen, net ’n entjie noord van Kolomela, by die dorpie Kathu, is een van die wêreld se grootste ysterertsmyne.

Dié rooi erts word per trein na Saldanhabaai vervoer. Die trein met sy 342 trokke en agt lokomotiewe vorm ’n slang van amper 3,8 km! En glo my, jy wil nie vir dié trein wag as jy laat is vir werk nie – dit vat byna vyf minute om voor jou verby te seil!

Sedert ek in standerd vier dié lang trein in my aardrykskundehandboek gesien het, het dit my bygebly soos ’n wonderwerk in die Bybel. Is dit régtig égtig so lank? En wie is die mense deur wie se lewe hierdie trein elke dag ry. 

Ons plan is om dié 861 km lange spoorlyn te volg tussen Sishen en Saldanhabaai van waar die erts na die res van die wêreld verskeep word. Ons probeer so na as moontlik aan die spoorlyn hou, meestal op grond- en dienspaaie. Maar ons het nie rekening gehou met die reën nie...


Só lyk die omgewing as dit rooi reën by die Kolomela-myn. Die treintrokke onder word volgemaak.



’n Paar jaar gelede was die grootste winkel in Kathu ’n Checkers. Deesdae is hier winkelsentrums, nuwe hotelle en betaal jy in Kathu meer vir ’n huurhuis as in die Kaap. Alles die myne se invloed.

Sishen is gesluit vir boekjaar-opnames, dus trek ons weg by die massiewe mynlorrie en laaigraaf wat net buite Kathu staan, by die afdraai van die N14 af. 

Van die mynlorrie af mik ons suidwes in die rigting van Olifantshoek. Die Sishenmyn lê kilometers wyd aan ons regterkant. Tot die haakbosse is rooi.

Sowat 20 km voor Olifantshoek ry ons die eerste keer oor die Sishen-Saldanha-spoorlyn. En dan weer sowat 20 km anderkant Olifantshoek op die grondpad Groblershoop se kant toe. ’n Bord beduie Loop 18 is teen die treinspoor af en ons vat die spoorlynpad om te gaan kyk wat loop daar rond.


Als is reg, beduie Alfredo Keyser van die Plasser-masjien af op Lus 18.



Loop 18 lyk soos ’n stasie. Hier is ’n klompie geboue, voertuie en mense. Maar nee, sê Lionel Smith, dis nie eintlik ’n stasie nie. ’n Loop is ’n lus. En met sy Weskus-aksent beduie hy daar is 18 lusse op dié spoorlyn. By ’n lus trek die leë trein van die hooflyn af sodat die vol trein op die hooflyn kan bly en die twee treine bymekaar kan verbykom.

“Net by die gelyke getalle is daar mens. Ongelyke getalle is dooie lusse. Soos Lus 17 hier anderkant. Daar is niemand. En by vyftien en dêtien en so. Ek het al op elke lus geslaap.”

Lionel werk al 35 jaar lank op die spoor. Hy bly op Saldanha en diens Transnet se voertuie al langs die spoorlyn. Lionel vat ons na die spoor toe waar ’n vol trein staan en wag.

Die wisselaars wat die treine van die hooflyn op die lus gooi, word uit Saldanha beheer, vertel Lionel.

“As jy hier loep en daai ding gaan skielik oep, skrik jy jou moer af.”

’n Leë trein se lig flikker in die verte. Hy pyl reg op die vol trein af. Ek hoop Saldanha se manne het onthou van die wisselaars. ’n Paar meter voor die vol trein swenk die leë trein na links en rol vir vyf minute voor ons verby. As sy stert se punt van die hooflyn af is, vertrek die vol trein.

“Hoepe en hoepe êts (erts). Allie pad Saldanha toe,” sê Lionel.




’n Groot geel gedoente staan en dreun ook nou op die spoor.

“Ons noem dit sommer die Plasser-masjien. Nogal ’n V8-enjin in. Hy beweeg op die spoor en sorg dat al die ballasklip reg lê,” verduidelik Lionel. 

Ek het later die affêre nagevors. Die masjien word deur Plasser Suid-Afrika ingevoer en die spesifieke model is die 09-Dyna-C.A.T wat ’n tamping machine of instampmasjien genoem word. Dit stamp daai grys klippe waarop die treinspore lê, vas sodat die spore waterpas en reguit bly. Dié klippe word inderdaad ballasklip genoem. 


Fris poele reënwater naby die Witsand-natuurreservaat
Dit het baie oortuiging gekos om Jan van Niekerk te laat stilstaan vir 'n foto.



Die pad teen die Witsand-reservaat verby is goed nat en ons plons kort-kort deur groot poele water. Ons stop langs ’n groot windpompwerkery om te groet en te hoor hoeveel reën geval het. Jan van Niekerk kry ons teen die jakkalsproef en sê hulle is besig om die windpomp se pype uit te trek.

“Hy’t ’n lek-besigheid iewers.”

Dit het lekker gereën, 53 mm, vertel hy. “Maar kyk, dit was morsig droog. Morsig. Ek het hom in ’84 laas só gesien.”

Ons vang die spoorlyn eers weer tussen Groblershoop en Kenhardt. Hy is intussen by Lus 17, 16 en 15 verby en bo-oor die Oranjerivier. Met die spoorlynpad gaan ons verby Lus 14 en nog ’n leë trein tot op Kenhardt. Die spoor skuur teen dié Boesmanlandse dorpie verby.

“Dit beteken vir ons baie,” vertel Eeton Wickens, die eienaar van die Kenhardt-hotel.

“Deur die jaar bly mense van Transnet by ons. En rondom September is dit shutdown. Dan sluit die spoorlyn vir twee weke vir herstelwerk en is ons en die res van die dorp tjok en blok vol. In daai tyd sien jy selfs nou en dan ’n ligte verkeersknopie op Kenhardt.”

Eeton en Suzette Wickens van die Kenhardt-hotel is lekker mense. Hier gaan jy dalk 'n dag langer oorbly as wat jy beplan het.


Rustyd


Die spoorlyn hou sy koers deur die Boesmanland se ooptes. Suidwes loop hy. Tussen die spierwit blomme van driedoringbosse deur. Oor vlaktes so wyd soos die melkweg en plat soos ’n eetkamertafel. Verby springbok en versamelvoëls. In die hart van die Boesmanland is die halfpadmerk. Lus 10. Halfwegstasie. ’n Leë trein staan en wag in die lus en ek stop by die voorste lokomotief. Die wolke in die weste is blou gekneus en oral om ons val strepe reën. 

Die drywer Ernest Lekhobo en sy assistent, Tumelo Nebogo, kom groet en nooi ons om na die kajuit te kyk.Hier’s g’n stuurwiele en pedale nie. Ernest werk met vier skerms met allerlei syfers en grafika, ’n klomp knoppies en ’n paar hefbome. Hy is ’n Sishen-drywer. Hulle bring vol treine tot op Halfweg en van hier vat ’n Saldanha-drywer die vol trein enduit. As ’n drywer op Halfweg aankom, moet hy eers agt tot tien uur rus voor hy mag verder. Want as hy op die spoor klim, is dit 11 uur se konsentrasie. 

Ernest beduie watter knop wat doen en met watter hefboom hy spoed beheer. En as ek weer sien, skuiwe die allemintige 41 400 ton geruisloos ’n paar meter vorentoe.“Dis belangrik om jou pad te ken as jy hierdie treine dryf,” sê Ernest.“Jy moet weet waar die hellings en afdraandes is sodat jy jou spoed kan aanpas. ’n Vol trein hou ons so op 50 tot 60 km/h. Dis nie ’n vrag waarmee jy kan jaag nie.”

Ernest roep iemand in Saldanhabaai oor die tweerigtingradio om te hoor hoe ver is die vol trein. Nog 7 km. 

Ons groet vir Ernest en Tumelo. Toe ons in die bakkie klim, begin reën dit met mening. Dis asof die wolke kop verloor en vergeet waar hulle is, want die volgende oomblik val die Boesmanland se jaarlikse reënval in een skoot. 


Ernest Lekhobo (links) em Tumelo Nebogo voor trein 1024 terwyl die wolke bo die Halfwegstasie gereed maak om hulle met vloedwater te gooi.
Ná die reën is die Boesmanland binne oomblikke ’n enorme dam vol bruin water.


Die trein sweef soos ’n gees deur die grys waas van die reën. Die vlaktes versuip onder modderwater. Die grondpad is ’n rivier waarin miljoene skaapdrolletjies uit die veld afgedryf kom. 

Al wat ’n driffie, slootjie of holte was, is nou ’n gedruis van water. Ek moet kort-kort instap om te voel of ons kan deurry. Ek is selde seker, maar die Isuzu stoom anderkant uit. Ons sien twee skape op ’n eiland vasgekeer. 

’n Ent verder word óns vasgekeer. Ons steek ’n vuurtjie aan en wag...

Teen middernag het die rivier genoeg afgeloop sodat ons kan deur. Sowat ’n halfuur later is ons op Loeriesfontein. Selfs die Boesmanland Pub & Grill wat bekend is vir laataand-kaperjolle is pikdonker. Ons slaan sowat 20 km buite die dorpie ons tente op in ’n gruisgat langs die R355-grondpad na Kliprand.


As die Boesmanland se riviere jou voorkeer, dan braai jy en vier die gedoente, want dit gebeur nie aldag nie - cowboys van die Knersvlakte.


'n Lang brug vir 'n lang trein. Hierdie brug oor die Olifantsrivier naby Lutzville is 1 035 m lank en sowat 50 m bo die grond.


Die langste uitsig


Halfpad tussen Loeriesfontein en Kliprand maak die grondpad ’n boggel bo-oor die spoorlyn. Dis ’n puik plek om die trein in te wag, mits jy genoeg tyd, geduld en koffie het. Hier kan jy uitkyk na albei kante van die spoor en sien jy die eerste lokomotief oor die verste vertes aankom. Jou bonus is die twee draaie wat die spoor gooi. Dit gee jou ’n baie mooi prentjie van hoe lank hierdie treine werklik is. 

Die reën het opgeklaar. Die lug is nog swaar van die wolke, die grondpaaie verspoel en die veld vol blink kolle water.

Ons is gelukkig. Ons hoor hoe ’n vol trein naderrammel. Die prentjie uit my aardrykskunde-handboek kry skielik lewe voor my oë. Toe die voorste lokomotief onder ons deurseil, is die agterste trokke en lokomotief nog agter die rantjies. Do-e-e-er, doer anderkant die oop vlakte. Amper 4 km van ons af. 

Van hier loop die spoor deur die Knersvlakte. Aan die westekant van die N7 raak ons grondpaadjie effe verdwaal tussen Marsagtige heuwels. Hier en daar staan ’n sinkhuisie in die kaalte. By een sit drie mense in die skadu van ’n afdak. Ons hou stil en ontmoet vir Paul en Jannetjie Swartz en hulle buurman Jan Klaasen. Hulle boer op hierdie warmgebakte hope gruis. 

“Dis Rooiberg dié. Ou weermaggrônne wat doerie jare by ons mense gevat is en waarop ons nou weer kan boer. Hier lê nog bomme wat lewe hier rond,” vertel Paul.

Van Paul-hulle se huisie af sien ons weer ’n trein verbykom.

“Elke nou en dan kom daai lang gedoente hier verby. Op en af. Iedere dag en nag. Ek kyk hom so en ek wonder watse klas gat is daar nie al gegrawe waar hy vandaan kom nie,” sê Paul. Yslike gate, vertel ek hom.

“Die mens kan nou maar eenmaal nie die aarde uitlos nie. Ons krap vir hom tot hy klaar is.”  

Ons groet nadat hy pad beduie het.

“As julle nou volgende keer hier kom stop, dan braai ons en maak potbrood,” belowe Paul.

Ons dop uit op die pad tussen Vredendal en Lutzville. Naby aan waar die spoorlyn met ’n kilometer lange brug bo-oor die pad en die Olifantsrivier rek. ’n Mooi stuk ingenieurswerk. Van hier is dit see toe en kuslangs. Verby Strandfontein, Bamboesbaai, Doringbaai, Lambertsbaai, Elandsbaai, Dwarskersbos, Velddrif tot op Saldanha. Waar die yslike Saldanha-staalaanleg die treine inwag. 

Dis ’n vreemde plek as jy hom so van die pad af bekyk. Amper soos ’n tamaai ruimtestasie. Maar vir ons het hy iets bekends aan hom. Iets wat ons herinner aan waar ons drie dae gelede weggetrek het. Die hele plek is rooi.


Jan Klaasen en Paul Swartz is boere en bure in die Rooiberg-omgewing


LEES: Blitsfeite oor SA se langste trein

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters