22 September 06:20
Kaapstad Verander Area

Vrydag

16°C / 12°C

Wind 32km/h

Rainfall 0

Humidity 75%

Saterdag

19°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 0

Humidity 54%

Sondag

19°C / 10°C

Wind 26km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Maandag

15°C / 12°C

Wind 29km/h

Rainfall 6mm

Humidity 73%

Dinsdag

14°C / 10°C

Wind 21km/h

Rainfall 5mm

Humidity 66%

Woensdag

16°C / 11°C

Wind 33km/h

Rainfall 0mm

Humidity 64%

Weg Namibië 2016
Hier’s ons 20 gunsteling-kampplekke in Namibië


Namibië is ons gunsteling-buurland én ons gunsteling-kampland. Van die suide tot die noorde is Namibië geseënd met kampplekke waar jy sal wil afhaak, tentpenne inkap en vir dae aaneen uitspan.


Weg se joernaliste reis gereeld na Namibië en wanneer ons daar is, kamp ons sommer 80% van die tyd – en dis nie net om geld te spaar nie; dis omdat dit vir ons lekker is! 

Hierdie lys van 20 gunsteling-kampplekke is gebaseer op jare se ondervinding (hoewel ons één splinternuwe plek ingesluit het) en gekies omdat ons al daar was, en dit soveel geniet het dat ons enige tyd weer soontoe sal terugkeer.

Dis bestemmingskampplekke, met ander woorde plekke waar jy vir meer as een dag kan vertoef en dit as basis kan gebruik om die omgewing vandaan te verken. Dis nie net vinnige oorslaapplekke nie (van hulle is daar óók goeies, maar hulle’s nie op ons lys nie).

Tensy ons dit spesifiek andersins vermeld, is al dié blyplekke bereikbaar met ’n 4x2 met goeie grondvryhoogte. Jy kan in der waarheid die meeste van hulle met ’n gehuurde Hyundai Atos bereik (dis gewoonlik ’n Europese toeris wat met ’n Atos die Dorsland verken, maar dit wys jou wat moontlik is!).

Ons hoop jy geniet ons lys – maar vat die pad en gaan kyk self!




1. Amanzi River Camp, Oranjerivier


Amanzi is ’n goeie plek om te oornag aan die begin of einde van ’n Namibië-vakansie, maar neem kennis: Jy gaan gou planne beraam om langer as een aand hier te kamp.

Hier is verskeie goeie roeikampe in die omgewing, maar ons kies Amanzi om die volgende redes: Dit is by uitstek op kampeerders gemik (hier is wel een chalet) en die staanplekke is ruim, lowergroen grasperke met koeltebome wat strek tot op die rivier se oewer. Trouens, as jy enigsins nader aan die water kamp, gaan jou tent moet kan dryf!

Die kampterrein en ablusieblokke is netjies. Hoewel groepe mense soms opdaag en op kanovaarte vertrek, is dit saans lekker stil: Geen musiek of quadfietse word toegelaat nie.

Hier is ’n kroegie met yskoue bier en ’n winkel wat braaihout, vleis en wors verkoop. Jy kan ook vooraf ontbyt bestel. 

Kanovaarte, voëlkyk, visvang en ’n 10 minute lange staproete na San-rotskuns is van die doendinge by Amanzi. ’n Verfrissende swem vroegoggend in die Oranjerivier is ’n moet. Of sit bloot in jou kampstoel langs die oewer en dink: Net daar oorkant lê Suid-Afrika... maar dis lekkerder hier.


Waar? Volg die C13 vir 16 km wes van die grenspos by Noordoewer.

GPS S28.69965 E17.53312 

Kontak: amanzitrails.co.za




2. Gondwana Canyon Roadhouse, Visriviercanyon


Reg agter die bekende Canyon Roadhouse met sy Ford- en Chevy-wrakke is die kampeerterrein op die wal van ’n droë rivierbedding. Elke staanplek het hope skaduwee onder kameeldoringbome, ’n kragpunt en braaiplek. Die ablusiegeriewe is uit klip gebou en skoon en netjies.

Die versoeking is daar om behoorlik nes te skop op jou staanplek, maar onthou die Visriviercanyon is om die draai. Ry vroegoggend na die canyon en geniet ’n koffie by die Hobas-uitkykpunt (25 km weg) teen die eerste sonlig – dit is die beste tyd vir foto’s neem.


Waar? Langs die C37, 20 km noordoos van Hobas.

GPS S27.52431 E17.81461

Kontak:  gondwana-collection.com




3. Klein-Aus Vista, Aus


Elkeen van Klein-Aus Vista se tien staanplekke – met ’n kraan, tafeltjie en braaiplek – word geanker deur kameeldoringbome, waarvan die meeste ’n versamelvoëlnes huisves.

Jy kan hout en ’n lekker braaipak by die ontvangskantoor koop en ook bespreek vir  etes by die Desert Horse Inn se restaurant, 2 km van die kampeerterrein af. Kampeerders mag ook die swembad by die Inn gebruik. 

Klein-Aus Vista is ook ’n ideale vertrekpunt vir daguitstappies na die spookdorp Kolmanskop (115 km) buite Lüderitz of die Garub-watergat (20 km) waar jy die wilde perde van Aus kan sien.

Klein-Aus Vista se kampterrein is ’n wegkruipplek. Jy word heeltemal omring deur die Ausberg, ’n amfiteater van rots op die rand van die Namibwoestyn.


Waar? Langs die B4, 125 km oos van Lüderitz.

GPS S26.65191 E16.24384

Kontak: klein-aus-vista.com




4. Mesosourusfossielkamp, Keetmanshoop


Op hierdie plaas buite Keetmanshoop kan jy sowat 3 km veld-in ry en in die Boskamp tent opslaan tussen kokerbome en stapels dolerietklippe. Hier is basiese ablusiegeriewe met ’n “donkie” wat warm water verskaf, maar jy kom hierheen vir die rus en vrede, en die unieke landskap waarin die Boskamp geleë is.

Die plaas se troefkaart is die mesosourusfossiele: Bespreek ’n toer by die geesdriftige eienaar, Giel Steenkamp (72), wat na homself as die jongste fossiel in die omgewing verwys. Besoek ook die kokerboomwoud (hier is meer as 5 000 bome op die plaas) en luister hoe Giel “Vader Jakob” se wysie uitkap op die dolerietklippe.

Dis ook ’n goeie plek waarvandaan jy die Kalahari verder oos van hier kan verken.


Waar? 42 km oos van Keetmans langs die C17.

GPS S26.40616 E18.47649

Kontak: mesosaurus.com; mesosaurus.camp@gmail.com




5. Namtib-biosfeerreservaat, Tirasberg


Die D707 is bekend as die grondpad met die mooiste uitsigte in Namibië. Dit is dus reeds iets besonders net om tot by die ingang van die Namtib-biosfeerreservaat in die Tirasberg naby Helmeringhausen te ry.

Die reservaat is reeds sedert 1982 in privaatbesit van die Theile-gesin. Thorsten Theile en Linn Maulhardt, die gawe gashere en ywerige bewaringsgesindes, sal jou stuur in die rigting van Little Hunter’s Rest, die kampterrein ’n entjie weg van die lodge en ontvangs.

Maak jouself tuis onder ’n tamaai kameeldoringboom, slaan tent op, kry die vuurtjie aan die gang, maak ’n bottle rooiwyn oop, sak diep in jou kampstoel en kyk wyer as wyd. 

Jy sit in die middel van ’n amfiteater met manjifieke berge, met ’n uitsig wat tot doer op die einders strek (met die Namibwoestyn wat na die weste wink). En bo jou flicker die Melkweg haar miljoene dompliggies. Salig kwadraat.


Waar? Langs die D707, sowat 120 km noord van Aus. 

GPS S26.03714 E16.26170

Kontak: namtib.net




6. Terra-Rouge, Kalahari


Dis pure Kalahariplaas by Terra-Rouge (en die kampplek Meerkat Manor). Daarby is die eienaars, Pieter en Hanlie Möller, so gasvry as wat kan kom. 

Dis goeie oornagplek indien jy op pad is na die Kgalagadi-oorgrenspark, of Namibië uit daardie rigting binnegery het. Maar bly nog ’n dag of drie en kry ’n gevoel vir wat dit is om op ’n Kalahariplaas te woon. 

Gaan ry ’n draai saam met Pieter. Kyk beeste. Word weer ’n slag mens. Jy sal gou besef dit is die beste woonplek in die wêreld.


Waar? Langs die C15-grondpad, 45 km van Mata-Mata.

GPS S25.52553 E19.68561

Kontak: terrarougefarm.com




7. Sesriem, Sossusvlei


By Sesriem kamp jy waarlik met een voet in die Namibwoestyn. Dis so naby as wat jy kan oornag aan Sossusvlei se grootse duine.

Die groot voordeel van Namibia Wildlife Resorts se kamp is dat jy soggens ’n volle uur vóór enigiemand anders (want al die ander lodges lê net buite die grense van die Namib-Naukluft- nasionale park) die park mag binnery. Dit beteken jy het ’n uur voorsprong om by Duin 45 of Sossusvlei en Dooievlei uit te kom – presies wanneer die lig op sy beste is vir fotografie. Dieselfde geld die namiddag, wanneer jy ’n uur (die goue uur!) ekstra in die park mag vertoef.

Die kampterrein het deesdae ook ’n winkeltjie, kroeg en restaurant; as jy dus lui is, hoef jy nie eens self kos te maak nie.


Waar? Sesriem, by die parkhek.

GPS S24.48647 E15.79927

Kontak: ctbookings@nwr.com.na




8. Tsauchab River Camp, Naukluft


Daar is ’n horde blyplekke binne trefafstand van Sesriem en Sossusvlei, maar die Tsauchab River Camp is ons gunsteling. 

Hier kry jy iets unieks: Elk van die 14 kampplekke is ’n hele entjie apart uitgelê onder mooi bome en elkeen het sy eie ablusiegeriewe. Jy is dus stilte en privaatheid gewaarborg.

Die meeste kampplekke is bereikbaar per 4x2, maar indien jy spesifiek 4x4 wil ry, vra vir die Oerwald-kampplek, uitgelê naby groot wildevybome.

Tsauchab is veral geskik indien jy die nabygeleë Neuraswynplaas of die bergdeel van die Namib-Naukluft- nasionale park wil besoek. Tsauchab self het ook genoeg om te doen:

Jy kan maklik drie aande hier oornag en nooit verveeld wees nie. Stap, ry 4x4 of besoek hulle kokerboomwoud.


Waar? 70 km van Sesriem, langs die D854-grondpad.

GPS S24.44391 E16.17014

Kontak: tsauchab.com




9. Mirabib, Namib-Naukluft- nasionale park


By Mirabib rol die Namib-woestynvlaktes van die rotsknoets (wat skuiling bied vir jou tent teen wind, sou dit waai) uit in elke rigting na die horison. Vroegaand skinder die blafgeitjies: Dit is ’n plek waar jy déél voel van die landskap.

Jy kom egter nie hierheen vir die geriewe nie: Mirabib het geen krag of water nie. Die enigste geriewe is effens moeë puttoilette. Ry liefs met ’n 4x4, want kort dele van die pad het dik sand.

Gebruik dit as basis om die Kuisebvallei te verken – ry die D1983 verby Homeb en Gobabeb deur die Namib-Naukluftnasionale park. Jy sal heel moontlik sebra, springbok en volstruis sien – selfs jagluiperd as jy gelukkig is.

Weet voor jy waai: Jy moet ’n permit hê om die Namib-Naukluft- nasionale park binne te gaan – R30 p.p.p.d. en R10 per voertuig p.d. Kry permitte en betaal jou kamptarief by die kantoor van die ministerie van omgewingsake en toerisme in Swakopmund (hoek van Bismarck- en Sam Nujomastraat).


Waar? Sowat 150 km van Walvisbaai af.

GPS S23.45265 E15.36020

Kontak: rdausas@met.na




10. Spitzkoppe-gemeenskapskamp, Damaraland


Spitzkoppe is ’n plek met siel: Dit gaan jou op een of ander manier roer. Dis gelukkig nog nie oordonder met onnodige lodges nie – kamp kraai steeds koning in hierdie klipkoninkrykie.

Die 20 staanplekke lê wyd verspreid om jou ’n gevoel van ruimte te gee, en hoewel daar slegs puttoilette is by die staanplekke, kan jy kom stort, water tap en maaltye eet (bespreek vooraf) by die ingangshek.

Kamp hier vir twee of drie dae om seker te maak jy kry genoeg fotoneemkans – een sonsondergang is nie genoeg nie! Onthou: Deesdae moet jy ’n gids saamneem indien jy die rotstekeninge of Boesmanparadys wil besoek.


Waar? Sowat 55 km noordwes van Usakos.

GPS S21.83977 E15.20162

Kontak: spitzkoppe.com




11. Brandberg White Lady Lodge, Damaraland


Soos die naam aandui, is hierdie die beste plek om te bly indien jy die rotskuns (onder meer die “Wit Vrou”) van die Brandberg wil besoek. 

’n Groep woestynolifante beweeg op en af in die Ugabrivier en synde die 30 staanplekke in die rivierloop lê, het jy ’n goeie kans om hierdie Dorsland-“trekkers” te sien.

Staanplekke is groot, en het ’n braaiplek, waterkraan en ’n skaduboom (dikwels ’n anaboom, andersins kameeldoring). Kampeerders kan by die lodge gaan swem, en hier is ook ’n restaurant.

Jy’s nou in Damaraland – sit agteroor en geniet dit.


Waar? 27 km noordwes van Uis.

GPS S21.02200 E14.68271

Kontak: brandbergwllodge.com




12. Erindi, Omaruru


Die Erindi-privaatwildreservaat se Camp Elephant-kampterrein is langs ’n watergat uitgelê. Die lodge is luuks en hulle het hierdie aanslag ook op die kampterrein toegepas. Glo my, die kampgeriewe hier is beter as baie gastehuise s’n!

Die kamp is omhein om gevaarlike diere buite te hou – stap gerus met die kringpaadjie net binne die heining en kyk wat jy sien. Dis egter by die watergat met sy netjiese bankies waar jy die meeste van jou tyd gaan wil verwyl. Wag hier (ook saans, want daar’s ligte) en kyk hoe kom drink die olifante, sebras, rooihartbeeste, vlakvarke, bobbejane – wel, alles!

Behalwe vir wildkyk in die reservaat kan jy ook uitry na Omaruru vir iets anders, of die grondpaaie rondom die Erongoberg gaan ry – als lekker!


Waar? 60 km suidoos van Omaruru

GPS S21.54539 E16.38775

Kontak: erindi.com




13. Waterbergplato- nasionale park, Waterberg


Daar is ‘n hand vol goeie redes om die Waterbergplato- nasionale park te besoek, waarvan jy die eerste een sommer al by die ontvangskantoor aantref: ’n Opgestopte leeumannetjie waar jy ’n selfie kan neem.

Namibia Wildlife Resorts se kampterrein bied baie doendinge. Stap na die Duitse begraafplaas reg langsaan. Die laaste groot veldslag tussen die Schütztruppe en die Herero’s het in Augustus 1904 hier in die Waterberge plaasgevind. Die ruïnes van ’n Rynse sendingstasie is ook te sien.

Die Rasthaus-restaurant – oorspronklik in 1908 as ’n polisiestasie gebou – bedien etes (die T-been-steak is legendaries!). Die staproetes wat teen die Waterbergplatorand uitkronkel, is ’n hoogtepunt vir die uitsig en foto’s van bo af.

Hier’s ’n ryk voëllewe van meer as 200 soorte – vra by ontvangs vir ’n spesielys en wees op die uitkyk vir die skaars kransaasvoëls.


Waar? 110 km van Otjiwarongo.

GPS S20.51651 E17.24573

Kontak: ct.bookings@nwr.com.na




14. Olifantsrus, Etosha


Nog nooit hiervan gehoor nie, nè? Olifantsrus is Etosha se nuutste kampterrein en lê op die pad tussen die Okaukuejo- en Dolomietkamp. Dis die enigste kamp in die park wat eksklusief op kampeerders gemik is. 

Die wêreld hier is so na aan ongerep as waarvoor jy kan vra, want die kampterrein het minder as 18 maande gelede sy deure oopgemaak en hy lê in die westelike deel van die park wat tot onlangs nog beskut was teen ’n oormag toeriste.

Olifantsrus is gebou op die plek waar meer as 500 olifante geskiet en geslag is as deel van ’n uitdunningsproses in die vroeë tagtigerjare. Die reuseslagpale staan nog hier.

In die kampterrein is 10 staanplekke wat vooraf aan jou toegeken word. Sommige is egter groter en meer afgesonder as ander. Probeer die persoon by die besprekingskantoor oortuig om staanplek no. 10 aan jou toe te ken. Dis die grootste, het die meeste skadu en is naaste aan die uitkykpunt.


Waar? Sowat 60 km van Etosha se westelike Galtonhek af.

GPS S18.97111 E14.86115

Kontak: ct.bookings@nwr.com.na




15. Epupa Falls Lodge, Kunenerivier


Die lang reis deur die gewone dorre stuk Kaokoland noord van Opuwo laat jou aankoms by Epupa-waterval na die landing in die Beloofde Land voel: Water, groenigheid en... ’n lodge met ’n houtdek waar jy kan sit met ’n koue Savanna!

Epupa Falls Lodge is teenaan die rivier sodat jy maksimum voordeel uit hierdie lushof kan put. Bly minstens twee of drie nagte oor om die gebied ordentlik in te neem. Jy kan hiervandaan reël om ’n Himbakraal te besoek (R500 p.p.). En rus – onthou, jy’s met vakansie!


Waar? Epupa is 174 km noord van Opuwo, op die C43.

GPS S17.00242 E13.24450

Kontak: epupafallslodge.com; koos.cunene@iway.na (kampplekbesprekings); bookings@epupafallslodge.com (lodgebesprekings)




16. Kunene River Lodge, Kunenerivier


In ’n land met so min water is dit wys om by elke liewe rivier te vertoef. Die Kunenerivier vorm die grens tussen Botswana en Namibië en by Kunene River Lodge kan jy vir dae lank uitspan. Dis ’n stil, afgesonderde plek.

Die meeste van die 12 kampplekke is onder hardekool- en jakkalsbessiebome en kyk direk uit op die rivier, en het braaiplek, krag en gedeelde ablusie. Daar is ook netjiese lodgekamers en A-raamhuisies waar jy kan oornag. Die lodge het ’n restaurant en swembad. 

Besoek die nabygeleë Dorslandmonument by Swartbooisdrift of ry na die Ruacana-waterval. Voëlkykers sal behoorlik verkyker swaai hier, met byna 300 moontlike spesies om te sien. Sommige  is baie raar, soos die Angolasysie wat nét hier in ons substreek voorkom.


Waar? 50 km wes van Ruacana.

GPS S17.35439 E13.88129

Kontak: kuneneriverlodge.com




17. Ngepi Camp, Okavangorivier


Suid van Divundu, op die westelike oewer van die Okavangorivier, lê ’n rits goeie kampplekke en lodges.

Maar Ngepi Camp bly ons gunsteling vir kampeerders. Die kampplekke lê omtrent almal óp die rivier. En jy’ t gras vir jou motorsat tone, skadu vir jou sonvoos kop, en die water wat by jou voordeur verbyloop wanneer jy soggens jou tent ooprits.

Ngepi is ook bekend vir sy krokodilbestande swembad (in die rivier) en vindingryke badkamers (hulle’s net... anders). 

Jy kan ’n mokorovaart reël (R200 p.p. vir 2½ uur), of op ’n sonsondergangvaart gaan (R200 p.p. vir 1½ uur) – of bloot in die kamp bly en voëls kyk, want hier’s ’n magdom spesies.

Vir dagbesoeke kan jy Popawaterval toe ry, of wild kyk in die nabygeleë reservate Mahango en BwaBwata. Ngepi se restaurant is ook tops (soms is daar melktert vir poeding!).


Waar? 16 km suid van Divundu langs die C48.

GPS S18.11686 E21.67027

Kontak: ngepicamp.com




18. Malyo Camp, Kwandorivier


Ken jy die Kwando? Hierdie is ’n avontuurlustige rivier en jy kan by verskeie plekke wild kamp (soos in die Nkasa Rupara-reservaat) óf mak bly (soos by die netjiese Camp Kwando).

Die Malyo Camp is egter ons gunsteling omdat dit iewers tussen die wilder en makker opsies val én omdat kampeerders hier voorrang geniet. Die Kwando is ’n kleinerige rivier met ’n groot vloedvlakte, waaroor die rivier lui-lui met wye S-draaie kronkel.

Soms knyp dit ’n hoefyster- meer af, of ’n sytak – en dis oor een van hierdie sytakke wat jy moet ry om by Malyo uit te kom (ry dus liefs met ’n 4x4).

Gewoonlik kan jy droogvoets verby dié struikelblok (die eienaar, Deon van Blerk, was trots op sy houtbruggie, maar dié het onlangs ingegee.)

Aangekom by Malyo, strek die kampterrein tot teen die rivier – saans kan ’n seekoei jou gras kom sny, maar verder hoef jy nie omkyk-omkyk badkamer toe te stap nie. Wees egter wel versigtig langs die water, want hier’s krokodille.

Gebruik die Malyo Camp as basis waarvandaan jy die westelike oewer van die Kwando (in die BwaBwata- nasionale park) verken, asook die nabygeleë Mudumu- en Nkasa Rupara-reservaat (voorheen bekend as Mamili). Jy kan vis vang en op (aksiebelaaide) riviervaarte gaan waartydens jy seekoeie en olifante kan sien.


Waar? Sowat 30 km suid van Kongola langs die C49 (nou geteer).

GPS S18.05212 E23.33585

Kontak: deon@karambareservations.com




19. Camp Chobe, Choberivier


Camp Chobe se kampplek is stil, klein en privaat. Hier is ses staanplekke (met elk ’n eie ablusie, geen krag) in die skadu van groot anabome. Jy kyk uit oor die Choberivier, reg binne-in die bekende Chobe- nasionale park in (Botswana se kant toe).

Camp Chobe het ’n lekker kroeg, restaurant en swembad wat kampeerders kan besoek. Hier is ook verskeie doendinge waarvoor jy kan bespreek: boot en kanovaarte op die rivier, ’n stapsafari of wildrit.

Teen laatmiddag sal jy olifante tussen die kremetarte sien aanstryk water toe, en jy het ’n goeie kans om saans ’n leeu te hoor brul. Die olifante kom stap graag in die nag deur Camp Chobe – bly eerder in jou tent ná ure. Maar jy sal ver moet gaan soek vir ’n soortgelyke wilderniservaring (met grootwild) in Namibië.


Waar? 4 km wes van die Ngoma-grenspos.

GPS S17.89806 E24.72809

Kontak: campchobe.com



20. Caprivi Houseboat Safari Lodge, Zambesirivier


Caprivi Houseboat Safari Lodge se kampplekke is nie op die water nie (die chalets staan daar), maar jy het toegang tot die waterkant by die kroegie, gebou op ’n houtdek waarvan die bene in die rivier staan.

Ons hou van hierdie plek omdat Curt-Ingo Sagell, Silke Kauert en en Rachelle Lambrechts ons altyd so vriendelik ontvang. Hier’s ook rustige honde wat soms by jou kampplek kom lê – die plek voel gou soos ’n tweede huis! Die ablusieblok is netjies, en het opwasplek aan een kant plus ’n tweeplaatstofie (jy kan ook by hulle restaurant eet). 

Behalwe vir tiervisvang in die rivier is voëlskyk ’n groot sport. Die langkuifloerie broei sommer in die tuin. Vra vir Curt om die voëls se wegkruipplekke aan jou te wys: Jy sien dalk bosuile. Die grootmeneer is egter die visuil en hoewel jy dit saam met Curt per boot langs die rivieroewer af kan gaan soek het ons dit een aand rég voor die kroeg gesien! (En dit was vroeg, die bottel Amarula was skaars oop...)


Waar? 6 km oos van Katima Mulilo.

GPS S17.49515 E24.32406

Kontak: caprivihouseboatsafaris.com


Lewer kommentaar op hierdie artikel
17 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters