20 Januarie 01:28
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 17°C

Wind 27km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Saterdag

23°C / 16°C

Wind 33km/h

Rainfall 0

Humidity 55%

Sondag

24°C / 18°C

Wind 30km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Maandag

24°C / 19°C

Wind 34km/h

Rainfall 0

Humidity 69%

Dinsdag

21°C / 19°C

Wind 42km/h

Rainfall 0

Humidity 71%

Woensdag

25°C / 18°C

Wind 33km/h

Rainfall 0

Humidity 61%

Uit ons argiewe
Op soek na die konings van die Kongo


Die Kongo is nie op baie mense se moetsienlys nie, maar dis hier waar jy die groot indoenas kan sien... François Haasbroek het by die gorillas gaan kuier.


FOTO’S Francois Haasbroek




Daar staan ’n rondloperhond op die aanloopbaan van die Maya Maya- internasionale lughawe in Brazzaville toe ons land. Langs die aanloopbaan staan twee passasiersvliegtuie en roes, en by die militêre vliegveld langsaan het ’n boom deur die wrak van ’n vragvliegtuig begin groei.

Wrakke is iets wat jy gereeld sien in Brazzaville, die hoofstad van die Republiek van die Kongo. Dié land moet nie verwar word met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) langsaan nie. Die Republiek van die Kongo is – in vergelyking met die onstabiele DRK – ’n relatief vreedsame land. Brazzaville lê teen die Kongorivier, reg oorkant Kinshasa, die hoofstad van die DRK. Die DRK was eers Zaïre, maar aangesien die name so na aan mekaar is, praat inwoners van Kongo-Brazzaville en Kongo-Kinshasa.


Die stad is oud en vervalle maar skoon en netjies. Buiten die wrakke – dit word laat staan. Gepantserde voertuie, vliegtuie, taxi’s en selfs Porsche Cayenne-geraamtes word gelos net daar waar hulle die gees gegee het.


Hierdie is ’n tref-en-trap-toer. Ons is net vir vyf dae in die land én moet sowat 30 uur ry na die Odzala-Kokoua- nasionale park in die noorde en weer terug met ’n Land Rover. Dis waar ons groepie joernaliste vir Kingsley Holgate en sy span ontmoet. ’n Dag is nie genoeg om Brazzaville in te neem nie, maar ons gaan probeer.

In dié land is toerisme ’n bysaak. Moenie bruin aanwysingsbordjies verwag wat jou na allerlei doendinge beduie nie. Ons gids weet wel waarheen om te gaan – plekke soos die uitkykpunt oor die stroomversnellings tussen Brazzaville en Kinshasa, die Mami Wata-restaurant en die Poto Poto-mark in die middel van die stad. Aan die einde van ’n lang, warm dag voel jy tog asof jy Brazzaville beter ken.

Drink 'n N'gok-bier (n'gok beteken "krokodil") by 'n stalletjie in die Poto Poto-mark op die sypaadjie.


Die volgende oggend gaan die wekkers vroeg af. Odzala is sowat 600 km van die stad af, maar die pad is só sleg die rit kan tot 14 uur duur.

Op pad ry ons verby ’n paar groter dorpe soos Gamboma, Oyo (die president se tuisdorp) en Makoua op die ewenaar. Op die dorp Etoumbi ontmoet ons vir Kingsley en klim op ’n pont oor die Likoualarivier na die Ngagakamp in Odzala.

Kingsley Holgate rek bene terwyl ons voertuie per pont oor die Likoualarivier getrek word.


Vroeg die volgende oggend stap ons die reënwoud binne met die hoop om gorillas te sien. Hier hou tussen 100 000 en 200 000 westelike laaglandgorillas in die reënwoude in die noorde van die Kongo, Gaboen, Kameroen en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Omdat hulle habitat so ruig is, is dit moeilik om ’n familie op te spoor as jy nie weet waar om te kyk nie.

Odzala is een van die beste plekke om die groot ape te ontmoet. ’n Spoorsnyer volg ’n gorillafamilie die hele dag lank totdat hulle nes maak vir die aand. Die volgende oggend neem die spoorsnyer die toeriste tot by dié slaapplek, en hulle volg dan die spoor van daar af.

Dié soektog kan tot 6 uur duur, maar ná sowat 40 minute se stap verskyn ’n massiewe swart gedaante in die voetpaadjie voor ons. Die gids beduie ons moet ons gesigmaskers opsit. Selfs iets soos ’n verkoue kan na die gorillas versprei.

Vir omtrent ’n uur sit ons net en kyk. Die groot silwerrugmannetjie en sy harem wyfies sit sowat 10 m van ons af en die kleintjies speel in die takke rondom ons. Altesame sowat 30 gorillas.


Later die dag vaar ons op een van die sytakke van die Kongorivier, stap deur die digte reënwoud en die aand sit ons langs die rivier en luister na Kingsley se stories oor sy onlangse Hart van Afrika-ekspedisie.

Maar niks kom naby daai gorillas nie. Ná net ’n uur kan jy die verskillende persoonlikhede uitken. Die wyfies klets met allerlei oe- en aa-geluide asof hulle in ’n haarsalon sit. Die silwerrug hou die nuuskierige kleuters dop wat al hoe nader aan ons kom. Nou en dan kyk hy vir jou. Dit voel soos ’n mens wat vir jou kyk en jy kan nie anders as om te dink dat ons tog nie so verskillend is nie.

Hier teen die einde van die uur raak die kleintjies hans. Hulle kom te naby en die silwerrug staan op en stap in ons rigting, wat beteken dit is tyd om te gaan.

Sjoe, my bucket list is nou een merkie korter!


In hierdie deel van die wêreld is enige vleis goeie vleis. Luislange word langs die hoofweg noord van Brazzaville as bosvleis verkoop.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #136 (Februarie 2016) verskyn. Weg het hierdie reis as gas van die Kingsley-Holgate-stigting en Landrover aangepak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters