29 Mei 00:09
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Rainfall 0

Humidity 56%

Dinsdag

21°C / 14°C

Wind 8km/h

Rainfall 0

Humidity 48%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Donderdag

18°C / 14°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 73%

Vrydag

19°C / 13°C

Wind 14km/h

Rainfall 0

Humidity 66%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 29km/h

Rainfall 0

Humidity 77%

LESERSTORIE
Skerpioene, droogte en wiellaers wat lol
Mosambiek


Die Mosambiekse binneland kan jou met ongerepte bosvelde, fantastiese voëllewe en selfs wild verras. Maar dis geen plek vir sissies nie, het James Nelson agtergekom.

Met sonnige, palmboomryke Morrungulo Beach (sowat 90km noord van Mxixe in Mosambiek) in ons truspieëls, het ek en my seun, Harry, koers gekies na die Zinave Nasionale Park. Hierdie park op die suidelike oewer van die Save-rivier is min of meer halfpad tussen die kus en die grens van Zimbabwe. Nadat ons regs op die EN1 afgedraai het, was ons dankbaar om die geharwar en kinders wat “sweets! sweets!” gil agter te laat en die voertuig se neus na die noorde te druk.

By die dorp Muchungue het ons stilgehou om ’n foto te neem van ’n bus wat tydens ’n botsing met ’n houtvragwa in sy lengte oopgekloof is. Ons wou net die sluiter van die kamera druk, toe twee polisiebeamptes ons met swaaiende arms probeer keer asof ons op ’n hoogs geheime staatsinstelling wil spioeneer. 

Die een beampte het opgepof en selfingenome na ons oorgestap, maar sy houding het vinnig verander toe hy my herken. Hy was vroeër ’n polisiebeampte op Massinga, die naaste dorp aan ons lodge by Morrungulo Beach. Ons het mekaar hartlik gegroet, en ek is daar weg met die foto’s wat ek wou neem.

James en Harry het die kus agtergelaat om Mosambiek se binneland te verken.


Dinge raak rof


Noord van die Inhassoro-afdraai is ons verby die dorp Pande. Daar het ons in die buitewyke van die dorp links afgedraai op ’n goeie grondpad. Ons het ’n entjie gery tot by ’n plek waar die pad gevurk het. Ons het by ’n banca (winkeltjie) stilgehou en oor die pad probeer uitvind. 

Ek is gegroet deur ’n joviale man met ’n kort Rasta-haarstyl wat in sy laat 50’s moes wees. Hy het een groot koperoorring en verskeie koper-armbande gedra. Op ’n manier het hy my herinner aan ’n (effens ouer) Afrika-weergawe van Jack Sparrow van Pirates of the Carribean. Hy het vir ons na die regterkant van die vurk beduie, waar die pad beter is, en gesê ons moet die ou pad aan die linkerkant vermy. 

Ons het die goeie pad oor die Cao-rivier gevolg, maar dit het skielik in ’n toegegroeide tweespoorpad verander wat die Save-rivier volg. Ons het die pad gevolg waar dit langs die rivier af kronkel tot by Tondo-kamp, wat oor die rivier uitkyk.

By Tondo het ons vir Trevor Landrey ontmoet, ’n ou vriend wat vir die Vredesparkstigting werk. Hulle is besig om die Zinave Nasionale Park te rehabiliteer. Trevor is nog net twee maande in die gebied en is nog besig om dit te verken. Die meeste van die paaie in die park is sedert 1975 nooit weer gebruik nie, en jy moet die brandmerke op die bome volg wat destyds met die padbouery gemaak is.

Daar is wild, maar hulle is yl gesaai en verskrik nadat hulle in die 17 jaar lange oorlog feitlik uitgeroei is. ’n Program is egter op dreef om wild in die park te hervestig. Terwyl ons daar was, is 200 waterbokke, 200 ribbokke en 200 vlakvarke in die reservaat vrygelaat. Olifante, kameelperde, koedoes, rooibokke en njalas, sowel as talle ander kleiner bokkies kan reeds gesien word. 

En noudat die gebied beveilig word, keer talle diere daarheen terug. Dit is egter die pragtige bosveld met die verskeidenheid plantegroei wat jou asem gaan wegslaan – woude vol koorsbome, mopanies, hardekool, kremetart en ysterbome, sowel as die panne en rivierlope.

Die volgende paar dae het ons die Steentydperkgebied verken wat Trevor toevallig ontdek het. Die gebied het spookagtig en antiek gevoel, en die ysterhoutbome het tussen klippe van verskeie groottes kop uitgesteek. Jy kan op die grond nog vuurklippe en pylpunte sien uitsteek.

Die diere by die Zinave Nasionale Park is yl en baie skrikkerig, maar hulle getalle begin nou toeneem.
Saans in die Zinave-kamp sit jy voor jou tent 'n drankie en drink.


Die onbekende pad


Die oggend van ons vertrek is ons deur ’n rumoer wakkergemaak wat van die rivier se kant af gekom het. Toe ons ondersoek instel, het ons gesien dis kinders wat die muskietnette wat ons geskenk het, gebruik om die laaste paar visse in die poeletjie te vang. 

Ons is saam met Trevor en sy seun, Justin, wat ons op die laaste deel van ons reis vergesel het, daar weg en het in die rigting van Mabote gery. Daar was brandstof beskikbaar. Nadat ons volgemaak het, het ons suid gery, maar die teerpad vir ’n tweespoorpad verruil. Hierdie spoor was die hoofpad in die sestigerjare, en het Mabote met die Banhine Nasionale Park verbind.

Ons het kamp opgeslaan op die mees suidelike punt van die Banamana-meer, wat weens die droogte omtrent net ’n derde vol was. Daardie aand, net voor donker, het ons geskrik toe ons iets hoor wat soos ’n vliegtuig klink. Maar dit was toe al die tyd ’n enorme swerm flaminke. Die flaminke het iewers vanaf ’n hoogte neergedaal en op die laaste nippertjie een-een grasieus op die water geland.  

Die volgende dag het ons die Banamana-meer en die omgewing verken. Ons was verras oor die pragtige bosse en die fantastiese voëllewe op en rondom die water. Hier het ons gesien hoe die muskietnette gebruik word om vlieë uit die palmwyn te hou.

Ons watervoorraad het min begin raak. Omdat die brakwater van die meer nie drinkbaar was nie, het ons die volgende dag suid gery op die ou hoofpad, wat deesdae op geen kaart meer aangedui word nie. Ons het koers gekies na die Changane-rivier en die Banhine Nasional Park, waar ons seker was ons water in die hande sou kry. 

Die hitte het al erger geword (dit was later omtrent 40 grade) en die impak van die droogte het al hoe duideliker geword – verlate dorpies, droë putte en dorre lappe grond wat oopbars. Omdat ons nie seker was oor die roete nie, het ons by ’n nedersetting stilgehou. 

Ons het ’n krom, bejaarde man in ’n gebreekte plastiekstoel om aanwysings gevra, maar geen reaksie gekry nie. Hy het net na ons gestaar, wat my bang én nuuskierig gemaak het. 

Was dit weens die taalverskil, die feit dat vier wit mense uit die niet verskyn het, of die gevolge van die droogte, hitte en palmwyn? Ons het besef ons mors ons tyd en weer verder gery. Vier uur later het ons deur die mopaniewoud gebreek en op die droë vloedvlakte van Changane beland.


Die span sit vas in die modder by die Banamana-meer, wat slegs sowat 'n derde vol was weens die ernstige droogte in Mosambiek.


Bietjie skaduwee


’n Paar kilometer verder het ons by die valhek na die kampterrein van die Banhine Nasionale Park uitgekom. Die kampwag, wat omtrent 30 meter verder in die skadu van ’n mangoboom gesit het, het ons vir ’n hele ruk stip aangekyk voordat hy sy skadukol prysgegee het. Hy het aangedrentel gekom en die valhek vir ons oopgemaak, en toe in die rigting van die ontvangskantoor beduie. Dit  wat gesluit en verlate. 

’n Ent verder het die personeel van die Ontvangskantoor onder die boom met ’n blêrende radio gesit. Ons het na mekaar gesit en staar – ons traag om die lugversorging van die Landie agter te laat, en hulle die skadu van die boom. Omtrent vyf minute later het ons besef hulle is geensins van plan om na ons te kom nie omdat ons hulle middagete durf onderbreek het.

Met ons humeure wat daardie tyd al kookpunt bereik het, het ons die pad gevat na die Changanerivier. Ons het besluit dit lyk na ’n goeie plek om water en slaapplek vir die aand te kry. Foutjie! Omtrent twee uur later het ons steeds nog net die karkasse van dooie diere langs die rivier gekry wat, nes ons, na water gesoek het. Dit was ook net so moeilik om ’n kampplek te kry, met een skamele mopanieboom wat ’n effense skadu bied.  

Uiteindelik het ons in die middel van die rivier twee groot maroelabome gewaar wat ’n bietjie beskerming teen die versengende hitte bied. Vanaf die middag eenuur tot skemeraand het ons almal in ’n ry in die dun skadu gelê wat die stam van die grootste boom gegooi het, en net van tyd tot tyd agter die bewegende skadukol aangeskuif. 

Die drukkende hitte het uiteindelik besgegee en die lewe was weer draaglik ... totdat ons die honderdpote en skerpioene in ons kamp sien skarrel het. Justin, wat eerste gesteek is, het besluit die beste slaapplek is bo-op die waentjie.


In die versengende hitte het die groep na die Banhine Nasionale Park geyr met die hoop om water te kry.


Wavragte vol probleme


Ons het baie vroeg kamp afgeslaan sodat ons die inferno kon misloop en ons het in die pad geval in die rigting van Chigubo. Van hier af het ons die Funhalouro-tweespoorpad gevolg, onseker of dit die regte een is, maar ons het uiteindelik ’n teken gekry wat ons in die regte rigting beduie het. Harry het uitgeklim om ’n foto van die padteken te neem, en toe gesien die regterwiel van die waentjie staan teen ’n vreemde hoek – die wiellaers het ingekonk. 

Soos tipiese Engelsmanne het ons eers ’n potjie tee gemaak en toe gaan kyk of ons nie die een of ander nedersetting kry nie. Etlike kilometers verder het ons spore gesien wat in die bos verdwyn. 

Ons het die spoor gevolg en ’n paar gehuggies in die middel van ’n stowwerige vlakte gekry. Dit was bloedig warm. Die eerste ding wat ons oog gevang het was ’n Venter-sleepwaentjie wat op ’n paar mopaniestompie staangemaak is. Dit was verroes, albei wiele was skoonveld, en so ook die sleepstang, deksel en agterligte – maar dit het dieselfde koeëllaers as ons waentjie gehad! 

Nou, met wie sou ons onderhandel? In die verte het beweginglose hompe onder ’n boom gesit, en namate ons nadergestap het, het ons gesien dit is ’n handvol bejaarde vroue, kinders, honde en ’n paar kroes hoenders. Almal onder die boom het sleg gelyk, nes ons!  

Ek het op my hurke by die vroue gaan sit en vinnig agtergekom dat die Ventertjie aan die oudste van hulle behoort. Die hele tyd wat ons onderhandel het, het sy nooit van posisie verander nie – sy het op die naat van haar rug op ’n rietmat gelê. Die enigste ding wat elke nou en dan beweeg het, was haar mond, en haar hand wanneer sy diep teue uit haar handgerolde sigaret geneem het. 

Ons het uiteindelik uitgevind die Ventertjie behoort aan haar man, en ons het sy toestemming nodig om die wiellaer te koop. Maar hy was reeds oorlede! 

Ons het mooigepraat en gesmeek, maar die vrou was onwrikbaar. Ek was later net so geïrriteerd soos die vlieë op haar gesig wat telkens moes opvlieg wanneer sy die rook in dik bollings uitgeblaas het. Dit het begin lyk of die Ventertjie en die bejaarde vrou bloot daar gaan wegkwyn. Ek het ook gevra waar ons water kon kry en is meegedeel dit was “taamlik ver”, wat in Afrika beteken dit was ’n moerse afstand van daar af.

Die Venter se wiellaers het gees gegee.


’n Skoot geluk


Ek en Trevor het geïrriteerd teruggestap na die voertuig toe en vloekwoorde gemompel. Maar toe sien ons disselbome wat uit die stewige mopaniehout gesny was. Ons het twee bome nadergesleep en aan die Landie vasgemaak en teruggeneem na die boswa toe. En ’n uur later het ons die waentjie in ’n stewige slee-agtige kontrêpsie verander. 

Alles het goed gegaan terwyl ons vir ’n uur of twee op die sandpad gery het, maar nadat ons die Bailey-brug oor die Changanerivier oorgesteek het, het die harde grondpad die stewige stompe in tandestokkies verander. Ons het stilgehou by ’n lappie mahoniebome en moes vrede maak met die feit dat ons die boswa daar sou moes agterlaat.  

Ons het die GPS-koördinate aangeteken en al die inhoud in die voertuig geprop en huis toe begin ry via Funhalouro en Massinga. Ons het die aand om 7:30 by ons lodge aangekom. Ons moes nou wel sonder ons getroue boswa huis toe gaan, maar die vooruitsig van ’n warm bad het ons eers van ons sorge laat vergeet.


James en Trevor moes 'n slee uit mopaniestompe prakseer. Dit het 'n ruk lank gewerk, maar hulle moes steeds die waentjie langs die pad los.


Verblyf in die Zinave Nasionale Park

Zinave het vyf ruim tente, elkeen op ’n verhewe dek, met slaapplek vir twee per tent. Daar is saans ’n paar uur lank krag, en daar is ’n ablusieblok met spoeltoilette en storte. Tans is daar geen ander kampterreine nie, maar Trevor Landrey ondersoek nog geskikte terreine en paaie vir 4x4-ryers. As jy wil gaan kyk, kontak James by +28 84 246 7533 vir meer inligting. Daar is geen selfoonsein by Tondo-kamp nie.





Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters