29 Mei 00:06
Kaapstad Verander Area

Maandag

20°C / 12°C

Wind 11km/h

Rainfall 0

Humidity 56%

Dinsdag

21°C / 14°C

Wind 8km/h

Rainfall 0

Humidity 48%

Woensdag

20°C / 15°C

Wind 12km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Donderdag

18°C / 14°C

Wind 19km/h

Rainfall 0

Humidity 73%

Vrydag

19°C / 13°C

Wind 14km/h

Rainfall 0

Humidity 66%

Saterdag

18°C / 14°C

Wind 29km/h

Rainfall 0

Humidity 77%

Stap kringe in ’n bos op dié 3 staproetes


Dis Paasnaweek en op die Tuinroete se strande stoei mense vir ’n plekkie op die sand. Net ’n entjie weg van dié geroesemoes kronkel honderde wandelpaadjies deur die koel woude. Komaan, verruil jou visplakkies vir staptekkies. 


1. Groeneweide-roete 

9 km, 11 km, 13 km 


Dié sirkelroete begin op ’n redelik breë tweespoorpad onder ’n blaredak. Plek-plek stulp ’n paar boomwortels uit die grond – pasop vir struikel! Ná sowat 1,5 km op die Rooiroete (13 km) raak dit ’n enkelspoorpaadjie wat geleidelik daal tot by die Kaaimansrivier. Trek jou skoene uit en week jou voete in die koel rivier, want nou-nou kom die bulte! 

Hierna slinger die paadjie steeds deur die bos. Die Groen- (9 km) en Blouroete (11 km) draai vroeër van die Rooiroete af, as jy minder fiks is as wat jy gehoop het. 

Sodra jy die son deur die takke sien en die bome plek maak vir varings, kondig ’n bordjie aan: Jy is halfpad. ’n Ander bordjie dui ’n swemplek aan in die Silwerrivier. Dis ’n lekker plek vir piekniek hou, maar jy gaan ’n klipperige afdraand moet trotseer om in die rotspoele te plas.

Die eerste helfte van die roete is redelik mak, maar nou lê daar ’n paar strawwe bulte voor totdat jy uiteindelik weer by die Kaaimansrivier aansluit. Jy klouter telkens soos ’n krap oor die klippe. Soos ’n ander stapper tereg gesê het: “Hierdie is ’n 4x4-staproete.”


Hoekom hierdie een? Jy sien ’n verskeidenheid groot bome – ysterhout, stinkhout, Outeniekwa-geelhout – en kleurryke swamme. Hou jou oë oop vir apies, bosbokke, blouduikers, bobbejane en Knysnaloeries.

Kan kinders kom stap? Kinders ouer as 12 jaar behoort die roetes baas te raak as julle stadig en versigtig stap. 

Hoe kom ek daar? Ry na die George-kampus van die Nelson Mandela- universiteit by Saasveld. Draai van die N12 af op die Saasveldpad. Volg die pad tot by die sportveld. Draai regs net voor die veld. Parkeer en mik na die woud aan jou linkerkant (GPS S33.97160 E22.53480).

Koste: Kry ’n gratis kaart en permit aan die begin van die roete – dis in ’n houtboks.

Kontak: sanparks.org



2. Kringe in ’n bos-roete

3,1 km, 9 km


Albei dié sirkelroetes begin by die Krisjan-se-nek-piekniekplek. Pak dus ’n paar piekniekgoedjies in vir as julle klaar gestap het. Die piekniekkol was ook ’n gunstelingplek vir Dalene Matthee, skrywer van onder meer Kringe in ’n bos en Moerbeibos.

Op die 3 km-roete se enkelspoorpaadjie besef jy dat die Knysnabos nie ’n plek is waar mense maklik ’n lewe kan maak nie – die bosse, varings en bome neem behoorlik oor. Die waterstrome is bruin van die bome se wortels, die grond is ’n dik tapyt van blare en sonstrale sukkel om deur die blaredak te breek. Plek-plek het ’n ou stinkhout langs die pad omgeval. Dis eers as jy verby so ’n reus in rus stap, dat jy besef hoe groot dié eeue oue bome werklik is. 

Jy hoef nie soos Mowgli van The Jungle Book oor boom en bas te swaai en spring nie – Sanparke skuif gereeld die afgebreekte takke uit die pad uit en jy stap op netjiese plankiespaaie en houtbruggies oor waterstrome en gladde klippe. Dié roete is ’n rustige wandeling deur die bos. Die opdraandes is matig en jy staan gereeld stil om die bome se inligtingsbordjies te lees of om plante te bekyk of sommer net te luister of jy nie dalk vir Oupoot, die olifant, hoor aankom nie... 


Hoekom hierdie roete? Kom ervaar Dalene Matthee se bos. Haar as is hier gestrooi. Gaan staan ’n oomblik stil by haar gedenkteken. Sy het waarlik hierdie bos se stories lewend gehou. Krisjan-se-nek is naby Millwood (no. 3). Kombineer dié twee roetes en bring die hele dag in die bos deur.

Hoe kom ek daar? Draai sowat 8 km wes van Knysna af op die Rheenendalpad. Die afdraai na Krisjan-se-nek is sowat 12 km op dié pad. Wees op die uitkyk vir die Millwood Gold Fields-bordjie. 

Koste: Bewaringstarief: R28 vir volwassenes en R14 vir kinders.

Kontak: 044 302 5606; sanparks.org




3. Die Millwood-roete

5 km 



Honderde fortuinsoekers het in 1886 gestroom na Millwood, 30 km noord van Knysna, nadat James Hooper goud in die Karatararivier ontdek het. Binne weke het ’n dorp ontstaan met winkels, huise en ses hotelle. Ondanks gereedskap en mannekrag wat ingevoer is van Australië en Amerika af, het die mynskagte nie veel goud opgelewer nie. 

Teen 1890 – skaars vier jaar later – het die laaste maatskappy sy soektog na goud gestaak en die meeste mynwerkers en inwoners het die pad gevat na Pelgrimsrus en Johannesburg.          

Jy ry eers ’n entjie woud-in tot by die Mother Holly’s-teetuin waar jy jou kar kan parkeer. Van hier af stap jy op ’n grondpadsirkelroete verby mynskagte waarvan die ingange versteek is onder varings (bordjies wys waar die mynskagte lê.)

Ná sowat 2 km gewaar jy ’n groot skuur met ’n rooi dak. Draai af by die bordjie: “1 km to the mine and back.” Binne staan van die ou myntoerusting soos ’n draagbare stoomenjin, en ’n stampbattery om klip mee fyn te stamp.

Kyk ook uit vir die merker langs die skuur wat wys waar jy kan afdraai na die Bendigo-myn. Plak ’n harde hoed op jou kop as jy in die myn wil afstap – en wees maar gereed om te koes vir vlermuise!


Hoekom hierdie roete? Dis opwindend om af te klim in die ondergrondse mynskagte. Buiten die stories en spookagtige atmosfeer is die uitsigte ook besonders. Die dorpie was op ’n heuwel. Doer ver wink die Atlantiese Oseaan op die horison en onder jou lê die digte Knysnawoud.

Hoe kom ek daar? Dis op dieselfde pad as Krisjan-se-nek (no. 2) – ry nóg sowat 5 km aan op die grondpad. 

Koste: Bewaringstarief: R28 vir volwassenes en R14 vir kinders. 

Kontak: 044 389 0252; sanparks.org


Stap die Tuinroete plat


Die Tuinroete-stapfees vind plaas 14-17 April 2017. Kies tussen meer as 50 roetes tussen Mosselbaai en Plettenbergbaai. Sodra jy registreer, ontvang jy ’n feesprogram wat elke dag se staproetes aandui. Kombineer ’n paar maklike roetes of pak een van die groottes aan. 082 888 8181; walkingfestival.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters