20 Januarie 01:30
Kaapstad Verander Area

Vrydag

20°C / 17°C

Wind 27km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Saterdag

23°C / 16°C

Wind 33km/h

Rainfall 0

Humidity 55%

Sondag

24°C / 18°C

Wind 30km/h

Rainfall 0

Humidity 64%

Maandag

24°C / 19°C

Wind 34km/h

Rainfall 0

Humidity 69%

Dinsdag

21°C / 19°C

Wind 42km/h

Rainfall 0

Humidity 71%

Woensdag

25°C / 18°C

Wind 33km/h

Rainfall 0

Humidity 61%

Met permissie gesê…


Party stories moet ’n mens met permissie vertel, sê Zigi Ekron.


Soms moet ’n mens lank wag voor jy dit kan waag om ’n familiestaaltjie te deel sonder dat dit op die soort rusie uitloop wat beteken iemand gaan ’n testament verander.

Dis nie dat die stories skandalig is nie, maar dis nie vir almal in die familie ewe amusant nie – veral nie vir die hoofkarakters in die staaltjie nie. Dan wag ’n mens maar tot hulle nie meer daar is nie.

Ek was net vyf jaar oud toe my oupa aan my ma se kant een oggend by die tuinhekkie op die plaas ineengestort het weens ’n hartaanval – op pad terug van die melkery af. Daarna was daar drie belangrike “ou mense” in my lewe: Ouma, oom Jan en tannie Lizzie. Oom Jan en tannie Lizzie was my oupa se broer en suster wat op die plaas langsaan gebly het.

Nie een van die twee is ooit getroud nie. Daar is stories van liefdesteleurstellings en verlowings wat verbreek is wat veroorsaak het dat hulle twee eindelik as oujongnooi en oujongkêrel hulle lewe saam-saam deurgebring het. Hulle het altyd ’n huis gedeel, selfs toe hulle dorp toe getrek het.

Met dié dat hulle so naby aan Ouma gewoon het, was hulle altyd deel van ons plaasvakansies, en dikwels ook woonwavakansies na ander dele van die land.

Só het dit gekom dat oom Jan en tannie Lizzie saam met my ma-hulle met die woonwa opgery het Krugerwildtuin toe. Dit sou almal se eerste ervaring van die wildtuin wees. Oom Jan was toe al diep in die tagtig en het by die piekniekplek naby Onder-Sabie erg bewoë geraak omdat die Kruger ’n lewensdroom was wat hy toe nie meer gedink het gaan waar word nie. Dit was ’n hoogtepunt, maar die reis daarheen minder so.

Die eerste moleste het gekom toe ’n groep matriekseuns by die Gariepdam só erg rumoer het dat my pa hulle om middernag moes gaan vra om sagter te raas. Dit was eers die volgende dag in Bloemfontein dat hy agterkom het die javels het die Opel se nommerplate afgebreek. Noodgedwonge moes hy toe, nogal onder polisiebegeleiding, op ’n Saterdagoggend met die woonwa deur Bloemfontein se strate vleg op soek na iemand wat op kort kennisgewing nog ’n stel sal maak vir CL 32461.

Die aand slaap hulle oor op Vrede. Om praktiese redes het my ma en tannie Lizzie in die woonwa geslaap en oom Jan en my pa in die sytent. Soos ’n mens kan verwag van iemand van sy ouderdom, moes oom Jan toe iewers in die nag badkamer toe. Hy besluit egter om nie die res van die geselskap wakker te maak nie en sluip sonder sy flits uit. Heelwat later, toe Pa al begin bekommerd raak, strompel oom Jan ál mompelend terug. Sy pajamas is tot by sy knieë waternat. “En nou, oom Jan?” wil my pa weet.

Ek het verkeerde kant toe gedraai.”

“En toe?”

“Toe loop ek in die dam in.”

Die een oomblik was daar nog vastigheid onder sy voete... en die volgende net water, sê hy. Hoe hy daarin geslaag het om in die donker so regop te bly, weet nugter, maar hy het glo net omgedraai, die regte koers ingeslaan badkamer toe, en toe terug woonwa toe gesukkel. Teen dié tyd is Ma ook wakker, besorg dat oom Jan dalk seergekry het. Maar tannie Lizzie het selde ’n kans laat verbygaan om haar ouer broer voor stok te kry.

“Nou maar vir wat is jy so onnosel om nie ’n flits saam te vat nie?” “Maar die kamp se ligte brand mos!” “Ja, nou’s jou pajamas nat en vuil!” “Nie vuil nie, net nat!” “En waarin gaan jy nou slaap, want al jou klere is in die tasse in die kar.”

In my onderbroek. Nag!”

’n Jaar of twee voor Ouma se dood het sy nog saam met ons by Kleinplaas in Oudtshoorn gaan kamp met my pa se Jurgens Magnifique L. Dis toé dat ons agtergekom het ’n woonwapark kan ’n deurmekaar plek wees vir iemand van Ouma se jare.

Dit was ’n Desembervakansie en die oord was stampvol. Teen skemeraand het my pa pas die vuur opgesteek vir die aand se braaivleis terwyl my ma met die slaaie doenig was. Ouma, wat gewoond was daaraan om vroeg te gaan inkruip, het besluit om solank te gaan bad. Maar daar was blykbaar ’n kollektiewe benoudheid oor die stand van die ablusieblok se warmwaterkapasiteit wat veroorsaak het dat ’n hele klomp vroue op min of meer dieselfde tyd dieselfde gedagte as Ouma gehad het. Nietemin, Ouma is daar weg met haar badsakkie in die hand en haar pienk handdoek met die Caltex-hasie oor die arm.

Hoe dit gebeur het, weet ek nie. Ouma was in daardie stadium van haar lewe effens vergeetagtig. Haar sin vir rigting was ook nie meer so skerp nie. Dalk het sy glad nie die losgemaal, of die stoom- en poeierwalms en lang toue by die ablusieblok gewaar nie, of dalk het sy juis daarom besluit om ’n ander ablusieblok te gaan soek... een wat nie bestaan nie. Wat ek wel weet, is dat sy iewers die spoor byster geraak het – en daar verloor ons toe vir Ouma.

Die vuur het al uitgebrand en die kole was reg, toe is daar nog geen teken van Ouma nie. So tussendeur die tamaties opsny en braaibroodjies maak, het my mahulle tog gewonder waar sy is, maar gemeen sy sal weldra opdaag vir ete. Maar teen die tyd dat die goedgaar tjoppies van die kole afkom, het Ouma nog nie haar verskyning gemaak nie.

My ma is ablusieblok toe om vir Ouma te gaan aanjaag. Sy het by elke badhokkie en toiletdeur geklop – selfs die storthokkies, al was Ouma nie juis ’n stortmens nie. Maar Ouma was skoonveld. Dinge het nou skielik dieselfde proposisies begin aanneem as die dag toe ek as ’n tjokkertjie in die Goue Akker-sentrum in Kaapstad weggeraak het. (Dit was nie my skuld nie, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.) Dit was tyd vir ’n soekgeselskap. My ma is weer ablusieblok toe, my pa het by die ontvangskantoor gaan navraag doen, en ek het tussen die ander woonwaens gesoek, maar van Ouma was daar nie ’n teken nie.

Min of meer rondom die tyd toe almal gereed was om die plaaslike amptenary by die soektog te betrek, kom Ouma toe stralend en skoongewas met haar oorjurkie oor haar slaapklere uit die rigting van die chalets aangestap. My mahulle was ewe veel verlig, verbaas én verontwaardig!

“Nee, my kind,” sê Ouma toe, “ek het só gesukkel om die badkamer te kry dat ek toe maar gaan rigting vra het by een van daai oulike huisies daar oorkant. Die gawe mense was só vriendelik, hulle nooi my toe sommer om maar daar te kom bad. En was dit nou lekker! Ons het heerlik gesels!”

Ongelukkig kon Ouma nie beduie presies waar die huisie is of wie die mense was nie. Tot vandag toe weet niemand wie Ouma se barmhartige samaritane was nie.

Iewers lê daar sekerlik nog halfverbleikte foto’s of skyfies van albei vakansies in ’n kas, maar ek reken ’n mens kan nou maar die storie vertel sonder om iemand in die verleentheid te bring. Tannie Lizzie is laasjaar in die rype ouderdom van 94 oorlede, en oom Jan is al in 2000 weg, maar hy het darem die wildtuin gesien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters